Te midde van beurtkrag sal die Brackenfell-biblioteek, wat in gebied 10 val, volhou om lesers tegemoet te kom deur ’n gedeeltelike diens vanuit die voorportaal te lewer.
“Die biblioteke het ongelukkig nie tans toegang tot ’n alternatiewe kragbron tydens beurtkrag nie en kan om daardie rede nie ’n normale diens lewer tydens kragonderbrekings nie,” sê Sunell Lötter, prinsipaal-bibliotekaresse.
“Nie alleen werk die rekenaarstelsel en telefone nie, maar die belangrike sekerheidstelsel is ook dood en die natuurlike beligting binne die gebou is baie swak. Om sekerheids- en veiligheidsredes kan daar dus nie lede van die publiek tydens beurtkrag in die geboue toegelaat word nie,”
Die diens stel biblioteekgebruikers in staat om hul geleende artikels in te gee tydens beurtkrag. Personeel reik dan ’n kwitansie uit vir die artikels om verwarring te voorkom. Verder sal personeel ook op versoek tot en met vyf artikels per persoon in die biblioteek gaan haal.
Lötter sê dit word opgeskryf en later op die stelsel gelaai wanneer die krag weer aankom.
“Tensy die lesers spesifiek weet watter titels hulle wil hê, gee die meeste lesers ’n idee van watter genre of onderwerpe hulle van hou en dan kies die personeel ’n verskeidenheid namens hulle. Dit is nie ideaal nie, maar ten minste hoef niemand leë hande huis toe te gaan nie,” sê sy.
Die biblioteek maak op Maandae, Woensdae en Vrydae om 10:00 oop en indien daar op daardie oggende beurtkrag is vanaf 10:00, probeer die personeel, indien hul skofte dit toelaat, om ’n halfuur vroeër oop te maak om ten minste ’n paar gebruikers te help voor die krag afskakel. Wanneer die krag aankom, neem dit so 10 minute voordat die uitleenstelsel weer funksioneer en die toonbanke oopgemaak kan word.
Volgens Lötter is die meeste gereelde gebruikers reeds bewus van die situasie en probeer hulle voor of ná beurtkrag die biblioteek besoek.





