Vroue betoog teen borgtog vir ’n verdagte in die verkragtingsaak.

Credit: SYSTEM

Was dit nie vir mense wat deur die bosse langs Ou Faure-weg gestap het nie, sou hulle nooit ’n ontvoerde en verkragte 14-jarige meisie gevind het nie.

Die meisie is onlangs ontvoer en moes ’n bendeverkragting deurmaak voor sy bewusteloos in die bosse naby ’n varkboerdery gevind is.

Volgens Fariede Ryklief van die organisasie Women Impacting a Nation (Win) het die voorval gebeur ’n dag voor die skool heropen het.

“Die kind se pa woon in Kraaifontein en haar ma in Delft, dus gaan sy skoolvakansies by haar kuier. Die pa wou nie hê sy moet alleen in ’n über klim nie en het haar op ’n taxi Bellville toe gesit, waar sy haar ma moes ontmoet. Ek weet nie waar hulle mekaar gemis het nie, maar sy het gepoog om op haar eie ’n taxi na Delft te haal. Sy het nie geweet waar die Delft-taxi’s parkeer nie en het iemand gevra om haar te wys en sy is saam met die persoon na ’n taxi,” sê Ryklief.

Vandaar het dinge handuit geruk.

“Daar was nog mense in die taxi en hulle het saam met haar na die Ou Faure-pad gery, waar hulle haar verkrag het. Dit blyk nou dat die verkragters haar met dwelms ingespuit het en sy het haar bewussyn verloor. In ’n stadium het sy bygekom en na die mense gehardloop wat daar woon. ’n Verdagte het haar agternagesit, maar die gemeenskap het die verdagte gevang en hom aangerand, voor hulle hom aan die polisie oorhandig het,” sê Ryklief.

Volgens Ryklief ontvang die meisie nou berading en elke keer kom daar nuwe besonderhede na vore.

“Die dokters wat na haar ondersoek het, het naalde in haar arms gevind. Van die besonderhede wat sy nou onthou, is dat sy gedwing is om dwelms, waaronder Tik, te gebruik. Ons is dankbaar dat sy die voorval oorleef het, maar ons sal nie rus voordat al die verdagtes aangekeer is nie. WIN sal die familie tot die einde bystaan,” sê sy.

Niel Thys van die Tusgany Glen-buurtwag en hul lede het WIN by die Blue Downs-hof bygestaan om te betoog teen borgtog vir die verdagte wat aangekeer is.

“Hierdie is ’n skoolkind wie se hele lewe nog voor haar lê. Wat het van ons gemeenskap geword? Kan kinders nie meer kinders wees sonder om vir hul lewens te vrees nie. Ons was by die hof omdat ons wou hê die een verdagte moet nie borgtog kry nie. ’n Monster soos daardie behoort nie op die straat nie,” sê Thys.

Die borgtogaansoek vir die verdagte is tot vandag (Woensdag) uitgestel. Teen druktyd het die polisie nog nie op navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article