Die Downsindroom-vereniging van die Wes-Kaap soek na maniere om geld in te samel.

Ter Illustrasie

Nog ’n nie-regeringsorganisasie (NRO) soek verwoed na maniere om geld in te samel te midde van die regering se beoogde begrotingsbesnoeiings van honderde miljoene rande.

Die Downsindroom-vereniging van die Wes-Kaap, wat in Bellville geleë is, doen ’n beroep op skole en ondernemings om hul “funky socks”-projek te ondersteun om sodoende die organisasie en skole self ook te help.

Tineke Ganz-Malan, bestuurder van die vereniging, sê mense betaal R20 en dra dan op ’n dag in die week van 18 tot 22 Maart hul helderste (of onpaar) sokkies.

Die vereniging verskaf plakkers wat aan deelnemers gegee kan word.

Hulle doen ’n beroep op veral skole om hieraan deel te neem en sê skole kan dan R10 per elke plakker hou. Die orige R10 gaan aan die vereniging. “Dit is dus wen-wen,” sê Ganz-Malan.

Die geld sal gebruik word om aan te hou om dienste te kan verskaf te midde van die nasionale regering se aankondiging dat hulle die begrotings van verskeie provinsies gaan besnoei.

Die Wes-Kaapse regering is tans in ’n inter-regeringsdispuut betrokke oor die begrotingstekort van R1,1 miljard weens die loonverhogings van staatsamptenare.

Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling het einde verlede jaar in ’n brief aan NRO’s gesê die nasionale regering se beoogde begrotingsbesnoeiings gaan ’n reuse-impak op hul departement hê. Dit sal onder meer beteken dat hulle nie kan verseker dat organisasies vanaf 1 April nog hul befondsing van hulle af gaan ontvang nie.

‘Geweldige druk’

Op 8 Februarie het die Downsindroom-vereniging saam met ander organisasies aan ’n noodvergadering deelgeneem wat deur die die Wes-Kaapse Netwerk op Gestremdhede (WCND) gelei is.

Hulle sê die tekort gaan R642,2 miljoen in die Wes-Kaap beloop. Monique Mortlock, die woordvoerder van Sharna Fernandez, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het egter Maandag gesê die bedrag kan eers ná 7 Maart bekend gemaak word, aangesien die provinsiale begrotingsrede eers dan gelewer gaan word.

Meer as 70 organisasies het ná die noodvergadering ’n vraelys ingevul oor hoe die besnoeiings hul werksaamhede sal beïnvloed. Altesaam 22 het gesê hul sal heel moontlik hul deure moet sluit.

Enige besnoeiing sal groot gevolge dra. “Die druk op NPO’s is geweldig,” sê Ganz-Malan. “Ons sal nie ons dienste kan lewer sonder die voorlopige toelaes nie.”

Die vereniging bied ondersteuning aan mense met intellektuele gestremdhede en hul families in dele oor die Wes-Kaap heen.

Maatskaplike werkers maak seker families kan hul geliefdes met gestremdhede help.

“Ons bedryf ook die Umthi Spesiale Skool vir kinders van die ouderdom 3 tot 18 jaar wat multi-gestrem is (een van die gestremdhede moet intellektueel wees).”

Hulle bied ook werksessies aan vir leerders wat by Umthi klaargemaak het om hul vaardighede by te hou.

Verder bied hulle ook ander dienste om pret vir diegene met gestremdhede te verskaf – soos om sokkies te hou, waar mense tot laataand saam kan dans.

Dit is egter vir hulle belangrik om bewusmaking te kweek. Die “funky socks”-projek is ’n goeie geleentheid om ander te leer oor mense met gestremdhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article