Genl.maj. Mpumelelo Manci, adjunkkommissaris van polisie in die Wes-Kaap.FOTO: Solly Lottering

Credit: SYSTEM

Die beskerming van kinders ná die Covid 19-pandemie was die tema van ’n program by die AGS kerk in Scottsdene toe Nasionale Kinderbeskermingsweek in Kraaifontein op 30 Mei daar van stapel gestuur is.

Sowat 1 000 ouers en kinders het aan die verrigtinge by die kerk deelgeneem.

Die tema van die dag was, “Beskerm ons kinders ná Covid”.

Past. Clive de Kock van die kerk sê dit was ’n groot eer om die dag aan te bied, omdat kinders die kerk ná aan die hart lê.

Sowat 250 kinders word elke Sondag by dié kerk gevoed in ’n projek om kinders ná die pandemie by te staan.

Volgens De Kock het baie kinders hul ouers en ander geliefdes tydens die Covid-19-pandemie verloor.

“Dié kinders het nou ons beskerming en ondersteuning nodig.”

In sy spreekbeurt het Patrick Solomons van die organisasie Molo Songololo gesê daar is baie kinders in Kraaifontein wat nog nie geboortesertifikate het nie.

“Menseregte is ook kinders se regte, maar ongelukkig kan hulle nie hulself beskerm nie. Ouers wat versuim om hul kinders se geboorte te registreer, kom nie hul ouerlike verpligtinge na nie,” sê hy.

Genl.maj. Mpumelelo Manci, die adjunk-kommissaris van polisie in die Wes-Kaap, het die gehoor toegespreek.

In sy toespraak het hy na die geboorte van Christus verwys.

“Jesus het as kind na die aarde gekom en die beskerming van kinders lê ná aan die hart van God. Ná sy geboorte was sy lewe dadelik in gevaar soos so baie ander kinders op die aarde, en duisende kinders is doodgemaak toe Jesus gebore is,” het hy gesê.

Hy het brig. Gerda van Niekerk en almal bedank wat deel was van die program en aktiwiteite wat in die week plaasgevind het.

Die Eikendal-biblioteek het Donderdag ’n loopbaanuitstalling aangebied waar personeel van die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Wes-Kaapland, die polisie en ander staatsinstansies praatjies gelewer het.

“Eintlik moet elke dag kinderbeskermingsdag wees. Die polisie het die hele Meimaand op die tema gefokus en in Junie skuif dit oor na Jeugmaand, wanneer die fokus op hoërskoolkinders is,” sê Louise Strydom van die Kraaifontein-polisie se maatskaplike-misdaadvoorkomingseenheid.

Dinsdag het die eenheid met Missing Persons South Africa vergader en Vrydag handafdrukke van kleuters by kleuterskole geneem om profiele saam te stel.

“Die profielboeke van elke kind bevat sy handafdruk, ’n foto, beskrywing van die kind en sy ouers se kontakbesonderhede om die polisie in staat te stel om vinniger op te tree as die kind vermis raak of in die verkeerde taxi klim,” sê sy. Die Kraaifontein-polisie het vandeesweek in Wallacedene met werksessies oor misdaad teen vroue en kinders begin. Die Kraaifontein-gemeenskapspolisiëringsforum het die veldtog ondersteun.

“Dit is ’n belangrike inisiatief wat ten doel het om bewustheid oor die welstand van kinders te bewerkstellig,” sê ’n woordvoerder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article