Die beskadigde brugreling, waar bakstene verder afval, sal eersdaags herstel word.FOTO: Jo Sekepane


’n Beskadigde brugreling en keermuur wek groot kommer by inwoners van Van Riebeeckstraat in Goodwood.

Dit kom nadat ’n bakkie drie maande gelede daarteen vasgery het.

Die toneel in Giel Basson-rylaan en Van Riebeeckstraat is opgeruim, maar die stene is los en begin afval.

Sarel van der Westhuizen (67), ’n inwoner van Van Riebeeckstraat, meen die vallende stene kan mense se motors en selfs voetgangers beseer.

Van der Westhuizen is ook bekommerd dat as nog ’n ongeluk daar gebeur, daar geen keermuur of brugreling is wat die voertuig sal kan keer nie. Dít hou die moontlikheid in dat die voertuig op hul voorstoep kan beland, sê hy.

Dis egter nie ongehoord nie, want Van der Westhuizen sê jare gelede was daar wel ’n voorval waarin ’n voertuig van die snelweg en van die brug af in hul erf beland het.

Gegewe hierdie voorval, sê Van der Westhuizen, was hy al vele kere na die wyksraadslid se kantore, maar niks het nog gebeur nie.

Daar kom dalk egter binnekort lig aan die einde van Van der Westhuizen se tonnel.

Rob Quintas, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, sê die Stad se padinfrastruktuurdepartement het bevestig dat die herstelwerk aan die brugreling vir aanstaande maand beplan word.

Sodra die herstelwerk aan die brugreling voltooi is, sal daar met werk aan die muur begin word. Hierdie herstelwerk word vir September beplan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article