FOTO: Ter illustrasie

felix dlangamandla

Duisende rande se skade is aangerig toe ’n onbekende man verlede Vrydagoggend vroeg uit die bloute begin het om ruite by ’n bekende prokureursfirma in Durbanville uit te gooi.

Die man het oor ’n heining geklim en omstreeks 07:50 vermoedelik berserk geraak en begin om bakstene wat buite gelê het, deur die ruite aan die kant van die kantore van Smit Kruger Prokureurs te gooi.

Ten minste vier werknemers was reeds in die kantore ten tyde van die voorval, maar niemand is beseer nie.

Volgens Sampie Bredell, een van die direkteure van Smit Kruger Ingelyf, het die man net aangehou om bakstene te gooi en sowat 19 ruite van vensters uitgegooi.

Van die bakstene het deur die diefwering tot binne-in die kantore geval. Hoewel niemand beseer is nie, is meubels wat getref is, beskadig. Ook vensterrame en sommige vensterbanke is beskadig en diefwering gebuig. Personeel was ook baie erg geskok na die voorval, het hy gesê.

Bredell skat die waarde van die skade op sowat R20 000.

Die petalje het verskeie omstanders gelok. Volgens omstanders het die man laat blyk dat hy sy identiteitsdokument soek.

“Ons weet nie wat sy motief was nie. Ons ken hom van geen kant en het hom nog nooit gesien nie. Ons het beslis nie sy identiteitsdokument nie,” het Bredell gesê. Ons is baie dankbaar dat niemand seergekry het nie.

Die man is sowat 20 minute later in bedwang gebring en deur die polisie in hegtenis geneem met behulp van twee sekerheidsbeamptes van Halt Security.

Die verdagte is die naweek in die polisieselle aangehou en het Maandagoggend in die Bellville-landdroshof op onder meer ’n klag van opsetlike saakbeskadiging verskyn het. Die saak is uitgestel na Vrydag vir ’n aansoek om borgtog.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article