Orals waar twee Durbanvillers gaan, trek hulle aandag.
Maar dis om geen ander rede as Isak Venter en sy lewensmaat, Amanda van Wyk, se twee Bengaalse katte nie. Napoleon en sy Joséphine word saamgeneem as hulle gaan kamp, en daar sluip hulle soos wilde Bengaalse tiere op ontdekkingstogte rond.
Die een jaar oue katte het meer die persoonlikheid van honde, sê Venter, wat eintlik glad nie ’n katmens is nie. Nie net loop hulle aan leibande, ry saam kar en selfs kajak nie, hulle gaan haal ook goed en bring dit vir hul “ouers”, vertel hy trots.
Dis ook nie net in die kampeerterrein waar hulle die kalklig steel nie; ook as hulle by hul huis in Avalon Estate gaan stap, laat hulle die koppe draai.
Bengaalse katte, of Bengals, soos hulle alombekend is, speel ook soos honde – sonder enige opleiding, sê Van Wyk.
Dié katras is geteel uit die Asian Leopard Cat van Suidelike Asië en met die Egyptian Mau gekruis, verduidelik sy. Hul katte kom van ’n teler in Pretoria.
Van Wyk is die “leeutemmer” in die huis wat die katte hul toertjies leer. Hulle kan sit, poot gee en selfs’n high five én low five doen. Dit doen sy met ’n klieker om die gewenste gedrag aan te moedig.
“Met ’n stukkie bederf as beloning natuurlik!
“Ons kies gewoonlik private kampeerplekke waar honde nie toegelaat word nie, of waar net een staanplek is,” sê Venter.
Die katte kamp graag en jag heeldag lank. Soms raak hulle só meegevoer en verdwyn as kamp opgepak word om huis toe te gaan. Gelukkig het hulle intussen opsporingshalsbande aangeskaf waarmee die katte maklik gevind kan word, sê hy.
“Gewoonlik is hulle net op jag, en steur hulle hulle aan niks en niemand nie, of dalk is hulle net nie lus om huis toe te gaan nie,” sê Venter.
Naps en Phinie, hul byname, hou ook baie van die see en daarom kamp hulle gereeld by Tietiesbaai. Hulle ry dan graag saam kajak en speel in die water. Hulle gaan stap ook graag op die strand en lok groot reaksie uit – veral as dit lyk of hulle die honde op die strand wil jaag!
Die katte eet ’n spesiale dieet van rou vleis, been en organe, wat Van Wyk aanlyn bestel. “Dis gewoonlik kalkoen, volstruis en hoender. Napoleon en Joséphine vang ook soms ’n wilde voël soos ’n duif. Hulle eet ook brommers, motte en torre,” sê sy.
“Hulle is baie verveeld by die huis en ons sal dikwels sê: Die katte het ’n kamp nodig!” vertel Van Wyk.
Daarom is hul huis ook ’n paradys vir avontuurlike katte – ’n reusewiel waarin hulle soos hamsters kan hardloop, twee klouterbome met spesiale slaapmandjies, klouterrakke teen die muur en selfs ’n tonnel op die trappe. In die tuin is daar bakke met kattekruid en eetbare gras.
Die katte het ook spesiale lêplekke as hulle iewers heen ry – ’n tipe hangmatjie wat aan die ruit vassuig sodat hulle lekker kan lê en uitkyk in die ry.
Maar dis meestal hulle wat ander motoriste se aandag trek, vertel Venter. G’n wonder hulle het ook hul eie Instagram-rekening nie!





