Bishop Lavis en Delft is twee van die woonbuurte in die Wes-Kaap waar moorde in die laaste kwartaal aansienlik gestyg het.
Bheki Cele, nasionale polisieminister, het verlede week die nasionale misdaadstatistieke bekend gemaak en moord in die Wes-Kaap het met 114 voorvalle tot 1 164 gestyg.
In Bishop Lavis het moorde met 192,9% en in Delft met 15,9% gestyg.
Lt.genl. Thembisile Patekile sê die meeste moorde in die Wes-Kaap is bendeverwant.
Bendeverwante moorde tussen Julie en September is 79% van die totale toename.
Van die 280 bendeverwante moorde in die land is 233 in die Wes-Kaap gepleeg.
Angus McKenzie, raadslid vir Bonteheuwel, wat onder die Bishop Lavis-polisiestasie se jurisdiksie val, sê bendebedrywighede is ’n groot klad op die gemeenskap se naam.
“Die toename in bendegeweld wat deur die misdaadstatistieke uitgewys is, is weens ’n bende-oorlog wat tans woed. Sommige plekke in die polisiëringsgebied is tans rustig en veiliger as ander, maar die opvlamming in Bishop Lavis en Valhalla Park is rede tot kommer. Die polisie en metro-polisie het onlangs met die voorsitter van die subraad oor die kwessie vergader. Ek het onlangs my dank uitgespreek oor die goeie werk wat veral in Bonteheuwel gedoen is, maar is werklik bekommerd oor die geweld in ander omgewings,” sê McKenzie
McKenzie sê dit is moontlik om bendegeweld hok te slaan, mits ’n holistiese benadering gevolg word.
“Almal in die gemeenskap moet saamstaan. Die polisie en wetstoepassers moet met die gemeenskap saamwerk en anders om. As dit nie gebeur nie, gaan dinge erger word,” sê hy.
Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het in ’n verklaring sy teleurstelling oor die jongste statistieke uitgespreek.
“Die jongste syfers is teleurstellend en kommerwekkend, maar dit wys ons dat ons harder moet werk om misdaad meer effektief te pak.
“Ons moet ons samewerking met die polisie, wetstoepassers en gemeenskapsorganisasies versterk deur datagedrewe misdaadbekamping. Die huidige nasionale polisiëringsmodel is besig om inwoners te faal,” sê Winde.





