’n Skermgreep van twee vermeende swaargewapende bendelede wat mense intimideer.


Die gemeenskap van Bonteheuwel sal hulle nie deur bendes laat regeer nie.

Dit is die duidelike boodskap wat Angus McKenzie, raadslid vir Bonteheuwel, wil uitstuur nadat bendes verlede week werkers aan die sentrale treinspoor gedreig het.

Swaargewapende bendelede het gesê hulle soek beskermingsgeld of die werk aan die baie belangrike treinspoor sal nie voortgaan nie. ’n Video wat die ronde op sosiale media doen, wys twee mans wat met aanvalsgewere in die lug op skiet.

Die sentrale treinspoor, wat passasiers uit die noordelike voorstede na die middestad neem, is in 2019 gesluit, glo weens vandalisme.

Volgens McKenzie soek die bendes beskermingsgeld alvorens die werk kan voortgaan.

“Hulle het dit verlede week reggekry om die werk gestop te kry, maar dit sal nie vir lank wees nie. Ons kan nie toelaat dat bendes al die goeie werk wat hier gedoen word, ongedaan maak nie,” sê McKenzie.

Ná die aanvanklike voorval het McKenzie ’n dringende vergadering met Prasa en die polisie belê. “Ons kan nie die werkers se lewens in gevaar stel nie en is besig om ’n gesamentlike plan saam te stel om hulle te beskerm. Hierdie werk gee aan baie mense die geleentheid om geld te verdien sodat hulle na hul gesinne kan omsien. Die bendes, wat net ’n klein persentasie van die gemeenskap uitmaak, meen hulle kan almal beheer,” sê McKenzie.

McKenzie sê dit is van uiterste belang dat die sentrale spoorlyn so gou moontlik oopgestel word.

“Die trein wat hier verbyry vat ons mense werk toe en ons kinders skool toe. Enigiets wat verhoed dat ons mense by plekke uitkom waar hulle moet wees, het ’n negatiewe invloed op die gemeenskap.”

Sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, sê die polisie het ’n ondersoek van stapel gestuur. “Niemand wou ’n saak open nie. Die polisie werk hard om die bendebedrywighede hok te slaan. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article