Bendegeweld glo die rede vir kroegskietery waarin man vermoor is

‘n Man is verlede week in die vroeë oggendure by Buckleys in Edwardstraat doodgeskiet nadat hy glo op die deurwag losgebrand het. FOTO: Nielen de Klerk


Bendegeweld was glo die rede vir ’n heen-en-weer skietery en moord op ’n man verlede week by ’n kroeg in Edwardstraat.

Die voorval het Donderdag omstreeks 02:00 by Buckley’s Pub & Pool Bar in Bellville plaasgevind.

“Ek het buite gestaan, naby die uitsmyter,” vertel ’n ooggetuie, wat anoniem wil bly.

“Toe kom daar ’n kort ou in ’n grys kappietop en hy loop tot sowat 2 m voor die deur waar die uitsmyter staan en hy begin net skiet. Ek kan nie onthou hoeveel skote daar was nie, maar dit was omtrent 10.”

Die uitsmyter is gewond en die aanvaller het toe in die rigting van KFC gehardloop, waarna die ooggetuie nog skote gehoor het.

“Ek het later sy (die aanvaller se) lyk op die sypaadjie sien lê.”

Hy sê ooggetuies het dadelik noodhulp op die uitsmyter probeer toepas.

Foto’s wat van die toneel versprei is, wys die mans het hul hemde uitgetrek en probeer om die bloeding te stop.

Volgens Aubrey Morwenyane, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, is die aanvaller geskiet deur ’n ander persoon wat ook in die kroeg was.

Hy sê die aanvaller was saam met ’n ander man in ’n wit bakkie, wat later weggejaag het.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die uitsmyter is nog in ’n kritieke toestand.

CDF-sekerheidsdienste het op sy Facebookblad gesê die ander man in die bakkie is in die rigting van Bellville vort.

Die anonieme ooggetuie sê hy het die polisie gebel, maar hy het ná hul aankoms spore gemaak.

Netwerk24 het berig die skietery is na bewering ’n stryd tussen die 27’s-bende en ’n faksie van die 26’s-bende om beheer van die veiligheidsbedryf in Kaapstad te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article