Die bendegeweld wat die afgelope naweek in Bonteheuwel uitgebreek het, het Maandag ’n hoogtepunt bereik toe die polisie ’n vermeende bendelid in hegtenis geneem het.

Foto ter illustrasie.

Bendegeweld het weer die naweek in Bonteheuwel uitgebreek nadat ’n oor-en-weer-skietery die lewe van twee mans geëis het.

Die eerste oorledene is Sondag in die vroeë oggendure geskiet, waarna die ander later dieselfde dag in ’n vergeldingsaanval dood is.

Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het die polisie Maandag gesien hoe ’n man ’n vuurwapen rig op wat vermoedelik ’n oponerende bendelid is.

“Hy was nie bewus van die polisie nie en toe ons om nader is ’n handwapen op hom gevind. Die 22-jarige verdagte is in hegtenis geneem en staar klagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in die gesig,” sê Adonis.

Angus McKenzie, plaaslike raadslid, sê dit is hartverskeurend dat bendegeweld weer kop uitsteek.

“Ons is op die rand van die feestyd. Ek wil my dank uitspreek aan die gemeenskap en die wetstoepassers wat goed saamgewerk het om ’n verdagte aan te keer. Al die vredeliewende mense in Bonteheuwel wil ’n einde sien aan bendegeweld. Hierdie geval wys net weer dat ons uiteindelik bendegeweld sal kan oorwin,” sê McKenzie.

Adonis het ook bevestig dat ’n vermeende bendelid in verband met Sondagaand se skietery in hegtenis hegtenis geneem is. “Daar is ook beslag op ’n vuurwapen gelê. Hierdie skietery en vergeldingsaanvalle het die vermoë om die reeds brose vrede te verwoes. Ons is net dankbaar dat die gemeenskap die polisie se hand sterk deur inligting te verskaf wat lei tot die inhegtenisneming van hierdie bendelede. Ons werk hard om seker te maak hulle word uit die samelewing verwyder,” sê Adonis.

Intussen het die Mfuleni-polisie n verdagte in hegtenis geneem in verband met die moord op Kelly-Amber Koopman, wat verlede week in Wesbank doodgeskiet is.

Daar is op Sondag 5 November op Koopman en nog drie tieners geskiet, met die ander drie wat oorleef het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article