Nelia Lombard (46) is van twee goed seker: “dat lekker kos, braai en onthaal my happy place is én dat hierdie ’n groot en heerlike avontuur gaan wees – een waarvan ek deel wou wees.”


Bellvilliete word op vanjaar se Kokkedoor Vuur & Vlam goed verteenwoordig.

Kykers moet op die uitkyk wees vir twee plaaslike vuurstokers, Nelia Lombard (46) en Johan van der Watt (46).

Vir Kokkedoor Vuur & Vlam, waarvan die eerste reeks in 2023 uitgesaai is, gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei.

Dié twee onthoubraaiers het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop witwarm vir tradisionele kos. Hulle is vir die reeks gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Kinkelbraaiers, aan die ander kant, word vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis gekies.

Nelia, ’n vryskut-stelinkleder in die filmbedryf, en Johan, ’n argitek, wat so ewe om die draai van mekaar af woon, gesels met TygerBurger.

Wat het jul liefde vir kos oor die kole geprikkel?

Nelia: “Ek het van kleins af saam met my niggies en nefies saam met my ouma in die kombuis gespeel as ons vakansies by hulle gaan kuier het. Ons is altyd almal ingespan om te help perskes skil, appelkose ontpit, deeg uitrol ens. My ouma het vreeslik gebak en gebrou en ons was altyd deel daarvan. My ma is natuurlik ook ’n bobaaskok en ek het ook baie tyd ook saam met haar in die kombuis spandeer.”

Johan: “Ek is gebore en het grootgeword in die Vrystaat. My liefde vir kos kom van my ouers af. My pa het my geleer braai en my ma is baie lief vir kosmaak. So tussen hulle twee het my liefde vir kos ontstaan. My vrou is ook baie lief vir kos en sy hou daarvan om nuwe disse en geregte uit te toets.”

Johan van der Watt (46) het ingeskryf om “nuwe resepte, bykosse en braaivernuf” aan te leer, asook “om my eie tegniek en braaistyl met my mededeelnemers te deel”.

Is jy ’n tradisionele braaier, of gee jy jou dis jou eie kinkel?

Nelia: “Hoewel ek ’n redelik sterk tradisionele basis het wat betref die manier waarop ek kosmaak, is ek glad nie bang om te eksperimenteer nie. Ek beskou die vuur as my stoof en oond in die huis en eksperimenteer heeltyd met nuwe maniere om die kos op die vuur gaar te maak.”

Johan: “Ek is baie lief daarvoor om nuwe geregte te maak – iets baie eenvoudig te vat en dan iets anders daarmee te probeer maak. Maar die Vrystater in my hou maar ook nog baie van die tradisionele soos ’n tjoppie en ’n braaibroodjie – daar is darem min dinge wat dit kan troef!”

Wat is jou gunstelingdis om te braai:

Nelia: “Ek geniet dit om groter snitte soos ’n heel filet of ’n goeie verouderde riboog te braai. Daar is niks lekkerder as jou mes deur daai stuk vleis sny en dis perfek gaargemaak nie.”

Johan: “O hemel nee, daar is net te veel! Dit hang maar af in watter bui ek is en wat die weer doen. Op ’n lekker somersdag sal ek vleis braai, staanrib, steak of selfs ’n lekker vars vis. As die weer koud en reënerig is hou ek daarvan om ’n pot te maak – my beesstertpot is ’n wenner, of my Madraskerrie-lamskenkelpot.”

Hoe gereeld braai jy?

Nelia: “Ek en Carla braai partykeer drie keer per week. Dis vir ons die lekkerste manier om af te sluit ná ’n moeilike dag, al braai ons dalk net ’n stuk boerewors.”

Johan: “Ons gesin braai baie – seker so vier of vyf keer per week. My vrou is ’n baie goeie braaier wat nie terugstaan nie, maar dis meestal ek wat agter die kole staan.”

Wat is jou gunstelingdrankie agter die kole?

Nelia: “Definitief ’n rooiwyntjie. Laat ons maar net sê ek is nie ’n snob as dit by wyn kom nie en al my vriende spot my oor my keuse van wyn.”

Johan: “Bier – ek is baie lief vir bier, maar op ’n koue aand is ’n glasie wyn tops!”

Is jy ’n binnebraaier of ’n buitebraaier? Lapa of ope lug?

Nelia: “Ek braai enige plek – dit word nie deur die weer bepaal nie. As ons nie buite onder die peperboom kan braai nie, dan braai ons binne-in die huis in die kaggel of dra sommer die Weber in die garage in.”

Johan: “My vrou spot gereeld met my aangesien ek ‘te veel’ braaiers het (volgens haar). Ek verkies dit om buite te braai aangesien ons sulke wonderlike natuurskoon het. Daar is niks fout met binnebraai nie, ek het een in my huis en as die weer stormagtig is buite, maak ons binne vuur, maar vuur gaan gemaak word!”

Wat het die ervaring vir jou persoonlik beteken?

Nelia: “Ek het definitief ’n ryker mens uit die hele speletjie gestap. Nie net ryker aan kos-kennis en vriende nie, maar ook die heel belangrikste vir my ryker in selfvertroue en guts. Ek is reg om enige ding aan te pak.”

Johan: “Aangesien ek ’n onthoubraaier is, het ek die reis aangepak om uit te vind hoe goed ek is met kosmaak en deur die hele ervaring het ek geleer ek is nie ’nie te bad nie’. My aanvoeling vir geure en smake kan kompeteer met medekosmakers. Ek het besef my gut feel het meriete en ek moet meer daarna luister.”

Die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha is oor 13 episodes op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.

Moenie vir Nelia en Johan misloop nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article