Bellvilliet op Kokkedoor: ons het gelag, gehuil, gestres en gekuier

Lara van Heerden van Bellville, een van die deelnemers op Kokkedoor Vuur & Vlam.


Dit was so hittete of Lara van Heerden het nou in ’n laboratorium gesit en werk.

Nou speel sy eerder met ’n alchemie van geure en smake as sjef. Deesdae is sy ook in een van die land se grootste Afrikaanse TV-kosprogramme te sien.

Lara, van Blommendal in Bellville, is een van die deelnemers aan kykNET se Kokkedoor Vuur & Vlam-kompetisie wat verlede week begin het.

In die reeks, wat in Struisbaai verfilm is, moet deelnemers alles op, in of oor die vlamme voorberei.

Twee soorte deelnemers wys hul vernuf – onthoubraaiers het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos. Daarteenoor is kinkelbraaiers, soos Lara, gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

Die sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha tree as beoordelaars op.

Lewensveranderend

“Kokkedoor is definitief die grootste kookprogram waaraan ek al deelgeneem het,” sê Lara.

“Ek dink wat dit anders maak is die incredible groep mense wat ek ontmoet het (voor en agter die skerms). Ek en my medebraaiers het saam gelag, gehuil, gestres en gekuier en ons het lewenslange vriende geword. Kokkedoor is ook ’n massiewe produksie en ek dink die skaal waarop hierdie hele avontuur plaasgevind het, is op sy eie merkwaardig.”

Maar dit was amper of Lara het nooit ’n sjef geword nie. Sy het eers vir twee jaar BSc Mikrobiologie gestudeer, maar toe besluit sy kan nie meer uithou nie.

“Ek dink dit is ongelooflik belangrik om gelukkig te wees, en ek dink dit moet altyd jou grootste doelwit wees,” sê sy.

Sy moes eers kop skoonmaak en het as au pair gewerk. In dié tyd het haar ma randomly eendag vir haar gesê – “Blaar, jy is so lief vir kos en jy eet altyd so lekker, hoekom word jy nie ’n sjef nie?”

“En op daardie oomblik het ek besef, dit mag dalk net die regte beroep vir my wees – jy kan travel, jy kan altyd kreatief wees en jy kan mense gelukkig maak, en dit was vir my die belangrikste – ek wil joy in mense se lewe bring en die mooi vir hulle highlight”.

Sy werk deesdae by JAN Innovation Studio in Kaapstad, waar sy met geure speel om iets nuuts te skep.

“Die studio laat my altyd dink aan ’n blank canvas – dit kan enigiets wees wat ons wil hê dit moet wees – ons shoot al die disse wat in JAN THE JOURNAL is hier, speel rond met interessante bestanddele, ontwikkel nuwe disse en ons hou ook intieme, bespoke events.”

Stresvolle program

Die grootste uitdaging by Kokkedoor was om op terugvoering te wag, sê sy.

“Genade, dit was stresvol! Dit het nooit vir my saak gemaak hoe lekker of hoe sleg die uitdaging vir my was nie, jou kans om Kokkedoor Vuur & Vlam te wen was letterlik in daardie oomblik in die beoordelaars se hande, en al wat jy kan doen is om geduldig te wag en te hoop jy is nog veilig vir nog een dag.”

Lara is nie ’n nuutjie as dit by kookkompetisies kom nie. Sy is gekroon as die wenner van Kookpunt op Via en sy het ook die derde plek behaal in Sjefhuis op VIA.

Sy en haar spanmaat, Nicole Buirman van Robertson, wat voorheen The Ultimate Braaimaster se top-10 gehaal het, het baie lekker saam gewerk, sê sy.

“Ons was wonderlike spanmaats en (het) amazing kos saam voorberei.”

Die reeks is oor vier weke geskiet en haar werk en kollegas het haar wonderlik ondersteun. Sy het in daardie tyd onbetaalde verlof gevat.

Lara, wat aan die Hoërskool DF Malan gematrikuleer het, woon tans saam met haar meisie, Anya, by haar ouers, Eloïse en Ronald.

Beide Lara en Anya reis dikwels en dit het later net sin gemaak om by haar ouers in te trek. Sy het ook ’n jonger sussie, Phoebe.

“Ek is baie lief vir my gesin en ons almal is baie na aan mekaar.”

Sy wil ander aanmoedig om ja te sê vir geleenthede.

“Maak nie saak hoe groot, klein of intimiderend dit is nie, gryp dit met albei hande aan en gee dit jou alles.”

Die lewe gaan soms meer oor die ervaring as die wen of verloor, glo sy.

“Vul jou lewe met incredible experiences en ek belowe, dit sal jou elke keer beloon.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article