Foto van Albert Pretorus en Schalk Joubert
“Ek is nie Danie” met Albert Pretorius en Schalk Joubert is by verlede jaar se Toyota Stellenbosch Woordfees met vier Woordtrofees bekroon.

Die 30ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) wat van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April in Oudtshoorn plaasvind se program is propvol bekroonde teaterproduksies, kunstenaars en regisseurs.

Die KKNK bied die afgelope drie dekades ’n platform vir Suid-Afrika se voorste teaterproduksies en teatermakers en vanjaar is geen uitsondering nie.

Op die planke

Ek is nie Danie met Albert Pretorius en Schalk Joubert is by verlede jaar se Toyota Stellenbosch Woordfees met vier Woordtrofees bekroon —vir beste toneelstuk, beste teksverwerking en/of samestelling (Danie Marais), beste manlike speler (Pretorius) en uitsonderlike tegniese bydrae (Joubert).

Dana Snyman se Seun met Wilhelm van der Walt en onder regie van Nico Scheepers, is met vyf Momentum-Aardklop-toekennings bekroon, waaronder beste toneelaanbieding, beste regie en gehoorgunsteling. Dié drama is ook met die Woordtrofee vir beste eenpersoonvertoning bekroon.

Andrew Buckland se The Ugly Noo Noo het altesaam 17 nasionale en internasionale pryse ontvang, waaronder ’n Scotsman Fringe First en ’n Perrier Pick of the Fringe-benoeming by die Edinburgh Festival Fringe. Buckland is ook op die verhoog in ’n splinternuwe drama, The Fool’s Guide.

Police Cops: The Original met Zachary Hunt, Nathan Parkinson en Tom Roe was ’n wêreldwye treffer in Londen se Soho-teater en by die Edinburgh Festival Fringe, en het verskeie pryse van Melbourne tot Toronto en van Brighton tot Kaapstad gewen.

Frank Opperman is terug op die verhoog in Reünie, bekroon met die kykNET-Fiësta-prys vir beste akteur vir sy spel in dié komediedrama.

Chris Vorster se Gebou soos Steffi Graf het die Vrystaat-kunstefees se Vryskitter-prys vir beste vertolking en beste stelontwerp ontvang.

Alfred Adriaan se skerpskerts-vertoning Positive Strokes het die Aardklop- UitKlop-prys in 2025 ontvang. Mandri Sutherland, oftewel Vroudrie, is in 2023 bekroon as beste aktrise en vir grensverskuiwende werk by die Vrystaat-kunstefees. Sy is by die KKNK te sien in Vrou ens. 1.2.

Foto van Alfred Adriaan
Alfred Adriaan se skerpskerts-vertoning “Positive Strokes” het die Aardklopfees se UitKlop-prys in 2025 ontvang.

Drama en meer

Oudtshoorn se eie Karoo Kaarte-span, met veelbekroonde produksies soos Die Swartmerrie en Droomkraan Kronieke, is terug met ’n splinternuwe drama, Spoel wat lewe kry uit dié KKNK-projek se navorsing.

Die Engelse weergawe van Jakob, ’n gesinsteaterproduksie met Bryan Hiles onder regie van Michael Taylor-Broderick, is met ’n Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees bekroon. Hiles is ook aangewys as beste akteur in ’n solovertoning by die Durban-teatertoekennings.

Feesgangers kan ook uitsien na die Zip Zap Circus se eerste optrede by die KKNK met MOYA. Dié geselskap het al verskeie pryse, as uitsonderlike sirkus-geselskap en vir hul sosiale impak, gewen. Hierdie erkenning sluit pryse van die Wes-Kaapse regering, BASA én die International Circus Awards in.

Kafka’s Ape is ’n internasionaal bekroonde eenmanstuk met Tony Bonani Miyambo, onder regie van Phala Ookeditse Phala. Dié stuk is ’n verwerking van Kafka se A Report to an Academy en is bekroon met die NIHSS-prys vir beste openbare optrede (2017), die beste satire by die United Solo Festival in New York (2019) en vir uitstaande optrede by die Praque Fringe (2019).

Tshiamo Moretlwe se Filled, Sbuja Dywili se Ganga Nyoko! Inzima Nyoko!, Samantha Carlisle se Messy en Christine van Hees se Sade in Hollandse kombuise is almal met ’n Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees beloon.

Musiek en kinderteater

Stephanie Baartman en pianis Janine Neethling is saam op die verhoog in Hoort, wenner van die Woordtrofee vir uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek: klein groepe.

Foto van Stephanie Baartman
Stephanie Baartman is saam met pianis Janine Neethling op die verhoog in “Hoort”.

The Scullery Quintet se Stir-Fried Sonatas is die wenner van die Momentum Aardklop-pryse vir beste musiekgedrewe produksie, asook grensverskuiwende werk. Winand Grundling, welbekend onder KKNK-gehore as orrelis en reeds met drie Kannas bekroon, is vanjaar as pianis op die verhoog in A Victor Borge Tribute.

Die Laerskool Durbanville se Potloodsakkie: Agter die zip, een van ses laerskoolproduksies wat deel geneem het aan die ATKV-Tjokkertoneelfinaal by die Baxter-teater in 2025, is een van die kinderteater-aanbiediengs.

Benoemings

Onder die produksies en kunstenaars wat benoem is vir pryse tel Breyten Breytenbach se drama Boklied, wat benoem is vir vyf Woordtrofees, waaronder beste produksie en beste regie.

Magda Louw en haar Erhard: How Louw can you go? was baie gewild by die Vrystaat-kunstefees in 2025. Die produksie met Desiré Gardner en Hannes van Wyk is vir vier Momentum-Aardklop-pryse, waaronder beste toneelaanbieding, benoem.

Margit Meyer-Rödenbeck, Deon Lotz en Gary Naidoo is te sien in Rafiek Mammon se Rondomtalie / Marry-go-round, waarvoor Lotz as beste akteur by Aardklop benoem is laas jaar.

Beste van alle tye met Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk is benoem vir die Kanna vir beste komedie én beste Blitsteater-aanbieding by laas jaar se KKNK en is nou op die verhoog as ’n vollengte teaterproduksie.

Doolhof met Minke Marais en Vian Singleton, met teks en regie deur Robert Kruger, is benoem vir vier Aardklop-pryse in 2025: beste aktrise (Marais), beste regie (Kruger), beste aanbieding toneel en beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks (Kruger).

Luna Paige se musiekteaterproduksie Die reisigers en Figure of 8 Dance Theatre se Wings of Light: Dance of an Angel is ook vir Aardklop-toekennings benoem.

Feesgangers het ’n wonderlike geleentheid om al hierdie bekroonde produksies, kunstenaars en regisseurs in die Klein Karoo te sien. Die fees word vanjaar deur Absa geborg, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.

Besoek kknk.co.za vir die volledige feesprogram.

Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor.

Kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article