KAAPSTAD – Bek-en-klouseer is een van die mees ontwrigtende siektes vir die suiwelbedryf – nie omdat dit talle vrektes veroorsaak nie, maar weens die ernstige produksie-, koste- en markimpakte wat daarmee gepaard gaan, het Eduard Loubser, voorsitter van die Durbanville-landbouvereniging, gesê.
Loubser het na bek-en-klouseer verwys in sy voorsittersverslag by die vereniging se jaarvergadering, wat verlede Dinsdagaand by die Loch Lynne-wynplaas buite Durbanville gehou is. John Steenhuisen, die nasionale minister van landbou, het ook die boere toegespreek.
“Bek-en-klouseer is nie net ’n veeartsenykundige probleem nie, maar ’n bedreiging vir winsgewendheid, volhoubaarheid en marktoegang in die suiwelbedryf. Die impak lê in verlore melkproduksie, verhoogde koste, bestuursbeperkings en markonsekerheid. Daarom is streng biosekuriteit, dissipline en samewerking tussen boere, verwerkers en die owerhede nie onderhandelbaar nie,” het Loubser gesê.
“Daar word geraam dat Suid-Afrika in 1975 tot 28 000 melkboere gehad het, wat gesamentlik sowat 2.4 miljard liter melk in daardie jaar geproduseer het. Suid-Afrika het 50 jaar later slegs 885 melkboere, wat nou gesamentlik sowat 3.5 miljard liter melk produseer, waarvan die Wes-kaap 30,6% produseer,” het hy gesê.
“Verbruikspatrone toon dat verkope van vars melk eerder stabiel is of effens afneem as wat dit styg. Tegelykertyd is daar ‘n beter vraag na waarde-toegevoegde suiwelprodukte soos jogurt, kaas en gegeurde melk. Daar is egter ook beperkings as gevolg van die koopkrag van verbruikers, wat suiwelprodukte se groei kan temper,” het hy gesê.
“Die kernprobleem bly ’n swakgroeiende ekonomie. Wanneer huishoudings jaar ná jaar in reële terme armer word , word suiwelverbruik direk geraak. Die primêre produsent dra die grootste deel van hierdie uitwerking. Die enigste volhoubare antwoord bly uiterste doeltreffendheid, beter kuddebestuur, streng kostebeheer, optimale voerdoeltreffendheid en die benutting van kundigheid. Suid-Afrikaanse melkboere bly wêreldklas – nie omdat dit maklik is nie, maar omdat daar eenvoudig geen ruimte vir foute is nie,” het hy gesê.
Rooivleisverbruik onder druk
“Ook rooivleisverbruik in Suid-Afrika bly onder druk as gevolg van swak verbruikersbesteding, wat ’n duidelike verskuiwing na goedkoper vleissoorte dryf,” sê Loubser.
“Tussen 2015 en 2024 het skaapvleisverbruik per capita jaarliks met gemiddeld 6% afgeneem, terwyl beesvleisverbruik met ongeveer 1,5% per jaar gedaal het. Pluimveeverbruik, wat tradisioneel as die mees bekostigbare proteïenbron beskou word, het ook effens teruggesak, terwyl varkvleisverbruik met 3,2% per jaar toegeneem het – ’n duidelike aanduiding dat die verbruiker toenemend prysgedrewe besluite neem,” het hy gesê.
“Bek-en-klouseer bly die grootste enkele bedreiging vir die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf. Elke uitbreking het ’n onmiddellike en tasbare uitwerking op produsentepryse, markvertroue en uitvoergeleenthede. “Wanneer uitvoermarkte gesluit word, word groter volumes vleis noodwendig in die plaaslike mark gedruk, wat pryse verder onder druk plaas – veral in ’n ekonomie waar verbruikers reeds finansieel geknou is.
“Die uitwerking van bek-en-klouseer strek verder as net uitvoer. Bewegingsbeperkings, veilingsluitings en verhoogde biosekuriteitsvereistes verhoog koste en beperk boere se bestuursopsies. Voerkrale raak meer versigtig om speenkalwers te koop, wat ’n direkte negatiewe uitwerking op speenkalf- en slagpryse het. Hierdie onsekerheid beïnvloed kontantvloei, beplanning en beleggingsbesluite reg deur die waardeketting,” het Loubser gesê.
“Ten spyte hiervan het die rooivleisbedryf die afgelope jaar relatief stabiel gefunksioneer, hoofsaaklik danksy beter weidingstoestande en beperkte uitvoer na sekere markte. Pryse het egter grootliks ’n plafon bereik en enige verdere verbetering bly afhanklik van doeltreffende siektebeheer en herwinning van uitvoermarkvertroue,” het hy gesê.
Pryse van koring en kanola ‘n uitdaging
“Suid-Afrika het in 2015 altesaam 1,44 miljoen ton koring op 482 000 ha grond geproduseer; in 2025 het ons twee miljoen ton koring op ‘n bietjie meer as 500 000 ha grond geproduseer, met ‘n stabiele opwaardse kurwe in ton per hektaar die afgelope 10 jaar.
“Pryse bly egter die groot uitdaging. Internasionale koringvoorraadvlakke is steeds hoog, en wêreldmarkte bly goed voorsien. Plaaslike pryse bly vasgevang by invoerpariteit en die verwagting van beduidende prysstygings op kort termyn is onrealisties. Winsgewendheid het dus grotendeels afgehang van opbrengs en kostebeheer, maar is in baie gevalle nie genoeg nie.
“Dit is my mening dat die Suid-Afrikaanse graanboer deur die staat en ander organisasiesbeskerm moet word. Billike invoertariewe moet onderhandel word om die plaaslike graanboer te beskerm en hierdeur die Suid-Afrikaanse voedselsekuriteit in die lang termyn te verseker,” het Loubser gesê.
“Kanola het weer eens sy waarde bewys. Die gewas se droogteverdraagsaamheid, verbeterde saadtegnologie en rol in wisselbou maak dit ’n kernkomponent van volhoubare boerdery. Hoewel pryse nie uitsonderlik was nie, het kanola steeds beter risiko-profiele as sommige ander wintergewasse getoon. Die verwagting is dat kanola-aanplanting van 162 000 ha in 2025 tot 175 000 ha in 2026 sal styg – onder andere weens lae koringpryse,” het hy gesê.
Wingerde neem af
“Die wynbedryf bly onder groot strukturele druk. Wingerde het sedert 2006 van 102 000 ha tot 88 000 ha in 2025 afgeneem. Dit beteken die land het in die afgelope 20 jaar meer as 10 000 ha wingerd verloor – hoofsaaklik weens lae winsgewendheid en die vervanging van wingerde met ander gewasse soos sitrus, bessies en neutebome. Die afname het die afgelope paar jaar begin stabiliseer, maar daar is nog nie ’n sterk herstel in totale oppervlakte nie.
“Die plaaslike mark bly swak weens beperkte koopkrag en verkope toon geen sterk herstel nie. Uitvoermarkte bly belangrik, maar is uiters mededingend en sensitief vir pryse en wisselkoerse.
“In Durbanville het wingerde danksy gunstige weerstoestande oor die algemeen goed gevaar. Goeie knopontwikkeling, sterk set en gesonde wingerde het hoop geskep vir die komende oes. Durbanville bly geseën met uitsonderlike kelders en produsente. Die streek se koelklimaat-identiteit en fokus op gehalte bly ons grootste bate. Die toekoms van die bedryf lê nie in volume nie, maar in waarde, differensiasie en samewerking,” het Loubser gesê.
“Die 2025 tot 2026-jaar het weer eens bewys dat boerdery nie oor omstandighede gaan nie, maar oor bestuur, ingesteldheid en samewerking. Ons boere bly ten spyte van druk en onsekerheid veerkragtig, aanpasbaar en vooruitdenkend. Met die regte strategie, betrokkenheid en samewerking kan landbou nie net oorleef nie, maar bly groei – selfs in moeilike tye,” het hy afgesluit.





