Lede van die Kraaifontein-polisie, die GPF en geestelike leiers in die gemeenskap het bejaardes by die Scottsville-tehuis ter viering van Nasionale Boomplantdag besoek.
Die nieamptelike gedenkdag, wat elke jaar in die eerste week van September gevier word, moedig landsburgers aan om meer bome in hul omgewing te plant.
Drie bome, wat aan die polisie geskenk is, is met die hulp van plaaslike leerders op die grasperk langs die tehuis geplant.
Vanjaar se nasionale boom is die kannabas, ’n klein bladwisselende boom wat veral in natuurlike woude en bosse in verskeie provinsies van die land groei.
Die buisvormige blomme is pienk en ligpers en word in digte ronde hofies gedra. Die bome word dikwels vernietig om die bas te oes om toue te maak.
“Die bejaardes het dit buite in die sonskyn terdeë geniet terwyl ons hulle meer oor die geskiedenis van boomplantdag vertel het,” sê AO Louise Strydom van die Kraaifontein-polisie.
Die polisielede het ook van die geleentheid gebruik gemaak om bejaardes vir hul rol in die gemeenskap te eer.
“Julle is geliefd en jul wysheid word waardeer. Die polisie wil graag meer betrokke raak by die sosiale aktiwiteite van inwoners by die tehuis,” het sy op die dag aan inwoners gesê.
Nadat die bome op die grasperk buite die tehuis geplant is, het lede van die GPF die inwoners met lekker eetgoed bederf.





