’n Groep bejaardes van Delft is nou besig om die volgende stap op hul aktiwiteitslys te neem deur hul eie groentetuin te begin.
Die groep bejaardes, wat onder die vaandel van die Community Angels-organisasie werk, is al ’n geruime tyd besig met aktiwiteite om hulself besig te hou en ook om hul eie lewe makliker te maak. Hulle maak ook wolprodukte, wat hulle dan verkoop om geld vir die organisasie in te win.
Mariam Visagie van Community Angels sê die doel met die groentetuin is tweeledig van aard. “In die eerste plek leer ons die bejaardes vaardighede om na hulself om te sien deur groentetuine te vestig. Aan die ander kant gaan die groentetuin ook help om voorraad te voorsien aan die sopkombuis wat ons bedryf,” sê sy.
Visagie sê hulle het begin deur verskeie groentesoorte aan te plant. “Vir nou is die lappie grond wat ons by Mandelapark ontvang het ideaal, maar ons wil ook groter droom. Ek glo dat ’n gemeenskap die vermoë moet hê om homself te kan voed en ek hoop hierdie is die begin van daardie droom,” sê Visagie.
Sy doen ’n beroep op enigiemand wat sade of wil skenk om haar by 081 511 3457 te bel.





