Die muur waar skelms oorspring om by die bejaardes se plekke in te breek.FOTO: Jo Sekepane


Lucy Onkers wat al amper ’n dekade lank ’n huurder van Communicare is, sê sy sal nooit veilig in haar eenheid voel nie en dat Communicare geensins na haar uitreik vir instandhouding nie, maar sy betaal pligsgetrou elke maand haar huur.

READ | Correction and apology: ‘Communicare cares for tenants’

Onkers vertel hoe by haar woning ingebreek is in Mei 2022. Volgens Onkers het hulle deur die voorste leë eenheid gekom en in haar badkamer gekom en al haar goed gesteel, selfs die krane. Dit was tussen 02:00 en 03:00. Sy het om 03:30 wakker geskrik.

“My badkamer was leeg gedra, met klere en alles. Ek is nou nog nie oor dit nie, ek is eerlik, my gesondheid gaan agteruit.”

Onkers verduidelik hoe sy elke dag op en af loop en kyk of die vensters toe is, wat ook in die proses stukkend is, en om te kyk of dit veilig is. “Ek bly biddend.” Elke keer laat weet Communicare dat iemand na die plek sal kom kyk, maar hier was nog niemand.

Boonop het die toilet van die eenheid langsaan oorspoel en in die proses Onkers se houtvloer beskadig. Sy verduidelik hoe sy al geval het as gevolg van die beskadigde vloer.

Volgens Onkers is sy en nog ander al aangeraai om na ander eenhede te gaan kyk, maar niks het nog daarvan gekom nie.

“Ek voel in elk geval ek sal nooit veilig hier voel nie,” sê Onkers.

Onwetend onwettige huurders gehelp

Onkers vertel hoe sy die mense wat langsaan haar ingetrek het, gehelp het met elektrisiteit. “Ek het nie geweet die mense is onwettig nie en ek het gehelp omdat ek gedink het dit is goeie mense, maar agterna was ek bevrees, want ek het mense gehelp wat eintlik ’n gevaar is vir my. Toe ek nou agterkom wat die geval is en dat die mense my nie sal help om die elektrisiteitsrekening te betaal nie, het ek maar net op my knieë gebly; ek was depressief en het deur baie stres gegaan. Ek is ’n bejaarde, ek is nie gesond nie, en hulle is baie jonger mense en die goed wat daar aangaan het my bevrees gemaak,” sê Onkers.

Dankbaar vir Safety Parent Watch

Onkers wil die lede van die Ruyterwacht Safety Parent Watch bedank. Sy sê hulle het na haar toe gekom en belang gestel in haar en haar omstandighede.

Sy kon toe vir hulle vertel wat haar so ongelukkig maak. En hulle het die Stad Kaapstad in kennis gestel. Die Stad Kaapstad het toe gekom en die kragprop kom uittrek. “Ek was so bang, ek kon dit nie self doen nie. Hulle het omgegaan en vir die mense gesê hoekom hulle dit moes doen,” vertel Onkers.

Onkers is toe later deur die buurvrou wat onwettig in die eenheid langs haar gebly het, gedreig met ”ek sal terugkom en weer die kragprop indruk”.

Onkers vertel hoe sy eendag van die daghospitaal af gekom het en hoe daar vullis onder haar venster gestrooi was. “Ek probeer altyd my plek netjies hou met die krag wat ek nog oor het in my liggaam. Ek het baie angstig geraak.”

Dit het al deur die dag ook gebeur dat mense met wapens deur hul buurt loop wat hulle wou gebruik om die eenheid aan die voorkant van hare se relings en diefwering af te sny. Hulle het met ’n kar rondbeweeg. Hierdie voorval is by Communicare aangemeld, maar hulle het nie terugvoer gegee nie.

Geen sekuriteit

Rashied Cedras, voorsitter van die Ruyterwacht Tenants Forum, beskryf die gedeelte waar Onkers woon as ’n gevaarsone. Hy meen daar is geen sekuriteit nie hoewel daar grotendeels net bejaardes bly.

“Hulle is op hul eie, daar is nie mense wat na hulle kyk nie. Hulle bly teen die rivier wat skelms gebruik om weg te kom wanneer hulle mense beroof of aanval,” sê Cedras.

Volgens hom is die naam Communicare “belaglik”, want hulle doen niks wat hul naam beteken nie. “Die bejaardes wag hier om dood te gaan.”

Aletta Lottering, stigter van die Ruyterwacht Safety Parent Watch, wat gereeld rondes doen en inloer by die bejaardes, sê “daar is ook net soveel wat hulle kan doen”, want sodra hulle navraag doen, dan kry hulle ook nie antwoorde nie.

Instandhouding en veiligheid

Makhosi Kubheka, hoofbedryfsbeampte van Communicare, sê: “Communicare is verantwoordelik vir die instandhouding van die eiendom ingevolge die huurooreenkoms met huurders. Huurders kontak ons ??inbelsentrum om ’n diensversoek aan te teken.” Volgens Kubheka het Communicare instandhoudingspanne om probleme wat huurders het, reg te stel. “Ons het ook diensverskaffers en kontrakteurs na gelang van die aard van die probleem,” sê Kubheka.

Kubheka is van mening dat die veiligheid van hul huurders, veral die kwesbares, ’n prioriteit is vir Communicare.

“Bykomende sekuriteit is deur die organisasie verskaf op tye wanneer huurders gedreig is.”

Maar Kubheka maak ook bekend dat hoewel hulle doen wat hulle kan, het toenemende misdaad, onwettige besetting en geboukaping hul vermoë belemmer om voldoende sekuriteit te verskaf. Huurders word aangeraai om misdaad by die polisie aan te meld of Communicare direk te kontak om ’n misdaad aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article