’n Groot behuisingskrisis is besig om in Bellville-Suid te ontstaan, soos onthul deur ’n onlangse opname deur die Bellville-Suid-inwonersvereniging (BSRA) en die Development Action Group (DAG).
DAG het ’n vennootskap met die BSRA aangegaan om hulle te help met sosio-tegniese kapasiteitsbou.
Van 23 tot 25 November verlede jaar het BSRA en DAG onderhoude gevoer met verteenwoordigers van 278 huishoudings, wat lig gewerp het op swak lewensomstandighede, diensleweringsuitdagings en dringende behuisingsbehoeftes.
Agterplaas-akkommodasie
Die bevindings is kommerwekkend, meen DAG.
Crystal West, programbestuurder by DAG, verduidelik: “Altesame 63% van die huishoudings wat ondervra is, woon tans in informele agterplaasbehuising, waar gemiddeld een agterplaas akkommodasie aan 3,14 huishoudings verskaf.”
LEES | Behuisingsituasie op mespunt gebalanseer
Die opname het ook aan die lig gebring dat die meeste van hierdie gesinne in tydelike wendyhuise of tuinwoonstelle woon, wat hul behuisingsekerheid hoogs afhanklik van hul verhouding met die hoofhuisbewoners maak.
Verder is ’n verbysterende 98,6% van die huishoudings huurders sonder enige vorm van huiseienaarskap, waarvan 75% nie formele huurooreenkomste het nie, wat hulle vir uitsettings en regtevergrype kwesbaar maak.
Die ekonomiese uitdagings is ewe erg. In die opname is bevind dat 75% van huishoudings op maatskaplike toelaes staatmaak, waarvan 39% uitsluitlik van hierdie toelaes vir ’n inkomste afhanklik is. Die oorvol lewensomstandighede vererger die situasie verder, met uiterste gevalle waar tot 10 huishoudings ’n enkele eiendom deel – met altesaam 31 individue.
Toegang tot basiese dienste is nóg ’n belangrike kwessie.
Meer as die helfte van die huishoudings wat in agterplase woon, moet toiletgeriewe in die hoofhuis gebruik, en slegs 3% het toegang tot water binne hul eie strukture. Terwyl 96% toegang tot spoeltoilette het, gebruik 3% steeds die emmerstelsel, wat die voorkoms van ernstige sanitasieprobleme vir sommige inwoners beklemtoon.
LEES | Hupstoot vir behuising
West merk op: “Hierdie bevindings onderstreep die dringende behoefte aan omvattende behuisingsoplossings en beleidshervormings om veilige, betroubare en waardige lewensomstandighede vir alle inwoners te verseker.”
Die nuwe voorgestelde padskemaveranderings aan Robert Sobukweweg, Carl Cronje-rylaan, Tienie Meyer-verbypad, Willie Hofmeyerlaan en Reedstraat bied ’n goeie geleentheid vir die Stad Kaapstad vir die prioritisering van die aanpak van die kritieke behuisingsbehoeftes van diegene wat in Bellville-Suid en omliggende gebiede woon.
‘Nie prioriteit’
Vir Michael Graayenstein, die voorsitter van die BSRA, blyk die krisis nie ’n prioriteit vir die owerhede te wees nie.
“As ’n mens net kyk hoeveel mense op die waglys vir behuising is, onderstreep dit die hoë persentasie van mense in agtererwe wat al tussen 15 en 35 jaar lank wag,” sê hy.
Hy meen dat mense wat al so lank hul beurt afwag al intussen pensioenarisse is wat uitgebuit word in dié afhanklike omstandighede. “Diegene word so uitgebuit in sommige huurooreenkomste, en dit in die haglikste omstandighede wat water en sanitasie, sowel as oorstromings en brandgevare, insluit – juis omdat die mense toegelaat word om so beknop onder mekaar te woon.”





