Barista droom groot nadat koffie sy lewe as kind red

Mark Cloete maak een van sy kunswerke.


’n Barista wie se wortels in Elsiesrivier en Kuilsrivier lê, sê sy gewildheid as barista kom daarvan dat koffie letterlik sy lewe gered het.

Mark Cloete se kunswerke, wat hy in die skuim van koppies koffie maak, is uiters gewild op sosiale media, maar agter hierdie kunswerke lê stories van deurdruk.

Cloete se reis met koffie het begin toe hy as 11-jarige op ’n kamp in Hermanus vermis geraak het.

“Ons het van die bus af geklim, en toe ek weer besef, was ek tussen bosse en kon nie die ander mense sien nie. Jy kan jou indink hoe dit vir my op daardie ouderdom moes voel. Ek was benoud en bang en het begin huil.

“Uit die bloute het ek die reuk van sterk koffie gekry en het die reuk met my neus gevolg. Ná ’n rukkie het ek by ’n klein koffiewinkel uitgekom en die barista het gevra hoe ek daar gekom het. Ek het hom vertel dat ek net die reuk gevolg het. Koffie het letterlik my lewe gered,” sê Cloete.

’n Tekening van Jesus in die koffie.

Ná die voorval het Cloete aangegaan met sy lewe en toe hy op agtien sy ouerhuis in Elsiesrivier verlaat, het hy gaan werk soek.

“Ek en ’n vriend is in middestad toe met die hoop om werk te kry. Ons het by ’n koffiewinkeleienaar vir werk gevra en hy sê toe hy kan net een van ons aanstel, maar as skoonmaker. My vriend sê toe hy dink ek moet maar die werk vat,” sê Cloete.

Daar het hy lank gewerk totdat ’n klant eendag ingekom en ’n Americano-koffie gevra het.

“Die ander mense was besig en ek sê toe vir hom ek is slegs die skoonmaker en mag nie koffie maak nie. Die klant was haastig en het daarop aangedring dat ek die koffie vir hom maak. ’n Ruk nadat die klant daar was, het my werkgewer my ingeroep. Niemand wil deur jou werkgewer ingeroep word nie en ek was paniekbevange. Dit was egter nie nodig om te stres nie, want my werkgewer het my ingelig dat iemand op hul webtuiste geskryf het dat dit die beste koffie was wat hy ooit gedrink het. Hulle het daar en dan besluit om my vir opleiding te stuur,” sê Cloete.

Cloete is vandag ’n bestuurder van ’n koffiewinkel in die Strand en vind steeds vreugde en vrede in koffie. En dit is ook deur koffie wat hy sy verloofde ontmoet het.

“Ek het eendag die vrou in die winkel gesien en ek het baie van haar gehou. Ek, wat nog nooit kunswerke op koffie gedoen het nie, skryf toe my selfoonnommer met ’n tandestokkie in die skuim. Dit is vyf jaar later en ons is verloof,” sê hy trots.

Nadat hy die selfoonnommer geskryf het, het hy homself geleer om meer kreatief op die koffie te wees. YouTube-video’s was sy leermeester en vandag kry hy die wonderlikste versoeke van sy klante.

“Die mense sal baie spesifieke versoeke gee en een van die oulikstes was die boer wat gevra het dat ek ’n trekker en ’n windpomp moes teken. Die snaaksste versoek was die ou oom wat gevra het dat ek ’n kaal meisie op sy koffie moes teken. Daardie dag het ek gedink ek gaan my werk verloor, maar die oom het my uiteindelik ’n heerlike footjie van R500 gegee,” sê Cloete.

Koffie vir die engele

Dan raak sy stem stil wanneer hy vertel van die jong seuntjie wat saam met sy oupa by die koffiewinkel was.

“Die oupa het gekla dat die diens by die plaaslike kliniek baie swak was. Ek het gevra waarom was hulle daar en hy het gesê die seuntjie het kanker. Ek skryf toe op die koffie ‘God is in control’. Die seuntjie het my ’n stywe drukkie gegee. Maande daarna het die oupa laat weet sy kleinkind het gesterf. Op sy sterfbed het hy gesê hy wil soos Mark vir die engele koffie in die hemel maak. As ek daaraan dink, kry ek koue rillings, want ’n mens weet nooit watter invloed jy op mense het nie,” sê hy.

Mark Cloete maak tekeninge van sy klante se voorstelle.

En wat is volgende vir hierdie koffiekunstenaar?

“My droom is om eendag my eie koffie-kunsgalery te hê; kuns teen die mure en kuns op die koffie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article