Wat kom eerste, die hoender of die rommel?

Dit kan die vraag wees wat klante van ‘n KFC-eetplek in Belhar vra nadat ‘n video, wat na bewering wys hoe vuil die kombuis is, soos ‘n virus versprei het. Die video is Sondagaand geneem deur ‘n man wat kos wou koop nadat hy honger uit die middestad gekom het waar Kaapstad se Kersliggies aangeskakel is. Hy het uiteindelik R300 spandeer, maar hy en sy vrou het nie die kos geëet nie.

‘n Video wys hoe personeel van ‘n KFC oor die rommel op die vloer loop.

Die TikTok-gebruiker naldo85685 het die video gelaai waarin gesien kan word hoe rommel op die kombuisvloer van die eetplek lê, terwyl werkers nonchalant daaroor loop. In die video kan gehoor word hoe ‘n mansstem sê: “Kyk hoe lyk dit hier binne. Die mense werk hier met kos.”

In die kommentaar-afdelings van die plasings het verskeie lesers hul skok en verontwaardiging oor die toestand van die eetplek uitgespreek. Sommige het verklaar dat hulle gereeld die genoemde KFC, die een naby Modderdamweg in Belhar, besoek het en nou hul swaarverdiende geld elders gaan spandeer. Ander weer het vir die werkers probeer skerm deur te sê die gewraakte video is dalk gemaak terwyl die personeel besig was om skoon te maak.

Standaarde

KFC het in ‘n verklaring gesê hy is bewus van die video wat aanlyn die ronde doen. “KFC verwag dat alle restaurante streng hou by standaarde oor voedselveiligheid, higiëne en netheid, en ons keer glad nie die gedrag in die video goed nie,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article