Joanné Eksteen, kliniese sielkundige, Eversdal.

Credit: SYSTEM

Met die oorvloed van inligting, skerms, politiek en geweld, is dit vir baie volwassenes moeilik om hul angs onder beheer te hou. Hoeveel te meer sukkel tieners nie hiermee nie en is daar iets wat ouers daaraan kan doen?

Daar is maniere om ongesonde angs by jou tiener te verminder, sê kenners.

Hoekom stres tieners?

Teen die tyd wat kinders tieners word, begin hulle in ’n sin self ontwikkel, sê Joanné Eksteen, ’n kliniese sielkundige van Eversdal. “Tieners kyk na hul portuurgroep om krisisse op te los en ouers word eenkant toe geskuif.”

Daar is verskeie faktore wat bydra tot die ontwikkeling van angs en stres in tieners, sê Anuska Rabe-Steynberg, ’n opvoedkundige sielkundige van Brackenfell. “Sommige kinders is net meer geneig om angstig te wees en vir sommige kinders is dit net moeiliker om stres te hanteer.”

Gene speel wel ’n rol, maar daar is ook legio ander invloede, soos sosiale media. “Die internet en sosialemediagebruik kan bydra tot die oorweldigende hoeveelheid inligting wat kinders op ’n daaglikse basis moet prosesseer. Kinders word oorgestimuleer en ’n langdurige blootstelling hieraan kan moontlik lei tot die ontwikkeling van angs,” sê Rabe-Steynberg.

Eksteen beaam dit. “Vriende dien as ’n spieëlbeeld van ons waardes en norme en help om identiteit te ontwikkel. (Maar) ongelukkig kan sosiale media ’n verkeerde spieëlbeeld skep.” Dit veroorsaak dat tieners stappe wat vir die groei van gesonde identiteit belangrik is, omseil.

Ander stresfaktore wat dié terapeute gereeld sien, is die impak van traumatiese gebeure, stresvolle tydperke (soos Covid-19), werkloosheid van ouers, egskeidings en akademiese druk.

Boonop vind ’n klomp liggaamlike- en breinontwikkeling plaas. “Tieners is meer geneig om tot die ouderdom van 25 emosioneel eerder as logies te dink,” sê Eksteen.

Joanné Eksteen, kliniese sielkundige, Eversdal.

Wat gebeur as tieners stres

Rabe-Steynberg sê die streshormoon kortisol word deur die liggaam vrygestel wanneer die liggaam se stresrespons geaktiveer is. Dit aktiveer dan die veg-vlug-vries-respons.

“Wanneer kinders langdurig stres ervaar, is hul liggame in survival mode en die veg-vlug-vries-respons is konstant geaktiveer. Te veel kortisol kan omtrent alle liggaamsfunksies beïnvloed, en dit maak kinders moontlik meer vatbaar vir die ontwikkeling van angs, depressie, spysverteringsprobleme, kopseer, slaapprobleme en probleme met konsentrasie en fokus.”

Hou ’n ogie op die volgende simptome: Jou kind sukkel om te konsentreer, moegheid, swak konsentrasie, irritasie, rusteloosheid, verandering in eet- en slaapgewoontes of klagtes oor maagpyn en ander skete. Tieners bekommer hulself dalk oormatig (self as daar nie iets spesifieks is wat pla nie) en soek dan gereeld iemand wat hulle gerusstel.

Elke kind ervaar angs en stres anders, sê Rabe-Steynberg. “Daarom is dit belangrik vir ouers om uit te kyk vir tekens wat buite karakter vir hul eie kind is.”

Eksteen sê die mees algemene versteurings wat sy onder tieners in haar praktyk sien, is algemene angsversteuring, skeidingsangs en sosiale angsversteuring.

Buitemuurs

Eksteen sê elke kind is anders. “Wanneer kinders tieners raak, moet hul ‘blootstelling’ begin verminder en hulle moet meer begin om op ’n sekere ‘iets’ of twee te fokus. Hul moet hul plekkie vind. Dit is nie net goed vir hul selfbeeld nie, maar die brein ontwikkel daarvolgens.”

’n Mens hoef nie meer vir ’n tiener die konsep van uithou te probeer kweek soos met jonger kinders nie. “Ek dink ook as ’n tiener iets nie geniet nie, is dit dalk tyd om te stop,” sê sy.

Rabe-Steynberg sê dis belangrik om ’n balans te kry tussen te veel of te min aktiwiteit. “My raad aan ouers is om jóú kind te ken en om uit te kyk vir tekens van uitputting en oorstimulasie. Dit sal anders lyk vir elke kind. Wanneer ’n kind buite karakter optree, is dit gewoonlik tyd om ’n kind se roetine en buitemuurse aktiwiteite te evalueer om te verseker of dit wel bydra tot ’n kind se optimale funksionering.”

Anuska Rabe-Steynberg, opvoedkundige sielkundige, Brackenfell.

Wenke vir ouers

’n Ouer se primêre fokus moet ’n verhouding met hul tiener wees, sê Eksteen.

“Dit is normaal om eenkant toe geskuif word, maar moet asseblief nie moed opgee nie. Hou aan om uit te reik. Vra oop vrae, probeer luister en probeer om nie te oorreageer nie (hetsy goed of sleg). Bly kalm en moenie oordeel nie.”

Sy raai ouers aan om gereeld oor hul emosionele toestand uit te vra en of hulle oorweldig voel. “Leer hulle gesonde maniere om angs te hanteer en te reguleer.”

Rabe-Steynberg sê dit is juis belangrik vir ouers om hul eie angs te bestuur. “Kinders is baie fyner ingestel op hul ouers se emosionele toestand as wat ’n mens besef. As kinders sien dat hul ouers tyd maak vir rus (byvoorbeeld om ’n boek te lees of om ’n ent buite te gaan stap), modelleer jy vir jou kind dat dit oukei is om breuke te neem in ’n wêreld wat ’n hoë premie plaas op ‘besig bly’.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article