Die nie-regeringsorganisasie Angels in Action het onlangs “Paasfees-liefde” uitgedeel deur paaseiers en -bolletjies uit te deel – nie net aan behoeftiges en bejaardes nie, maar ook onder andere aan brandweerpersoneel en polisiebeamptes in Durbanville.
Angels in Action, wat in Julie verlede jaar deur Louise Lategan van Durbanville gestig is, het altesame 600 paasbolletjies uitgedeel aan Huis Ravenzicht in Kraaifontein, Huis Magnolia en Huis La Belle in Bellville en Huis Sarepta in Kuilsrivier, asook die Durbanville-brandweerstasie en -polisiekantoor.
“Ons het omtrent 800 paaseiers aan verskeie plekke geskenk – van die Herberg-kinderhuis en die hospitaal in Worcester tot die Lionsklub in Durbanville, wat dit by sopkombuise versprei het,” sê sy.
Paaseiers is ook geskenk aan Morné Joseph se organisasie, Smiling L’il Faces, wat dit versprei het onder die kinders van Morningstar en Wellington.
“Die stig van die organisasie was ’n groot geloofstap vir my. My knieë het gebewe toe ek die opdrag van Bo kry. Ek het net gevoel die taak is groter as ek.
“Ek is die Here dankbaar dat ons tot dusver met ‘Angels’ ’n verskil kon maak. Ons het nog nie finansiële ondersteuning nie, maar ek kon tot op hede al die uitreike doen met skenkings wat letterlik instroom sonder dat ons hoef te bedel,” sê Lategan.
Angels in Action kom eintlik al oor jare aan, sê sy.
“Ek is al 27 jaar betrokke by gemeenskaps- en welwillendheidswerk. Die behoefte het by my ontstaan om ‘groter’ te gaan sodat ek meer mense kon bereik.
“Totdat Angels in Action gestig is, was ek maar ’n ’one-woman-show’, wat gedoen het wat ek kon met dit wat ek tot my beskikking gehad het,” sê sy.
“Die gedagte aan ‘Angels on an Easter Mission’ was al verlede jaar op my hart, so dit was ’n uitgemaakte saak dat ons dit vanjaar gaan doen. Ek is dankbaar dat ek regtig kan sê dit was ’n groot sukses,” sê sy.
Sy word bygestaan deur die organisasie se vier raadslede, asook talle vrywilligers – “hulle het almal ‘n besonderse plek in my lewe”.
“Sedert ons eerste uitreikprojek het ons nog nie grond gevat nie. Ons is nie net beperk tot die Kaapstad-omgewing nie, maar het al so ver as Moorreesburg, Malmesbury, Robertson en Riebeek-Wes gery. Ons fokus op kinders, vergete ou mensies en mense in minderbevoorregte gemeenskappe en skole, asook mense met spesiale behoeftes,” sê Lategan.
“In die toekoms sal ons ook vaardigheidsontwikkeling onder hoërskoolkinders doen. Daar is groot planne vir die toekoms, waaroor ek nie nou kan praat nie,” sê Lategan.
Besoek Angels in Action op Facebook vir meer inligting.





