Wanneer die 2021-skolerugbyseisoen amptelik vandeesweek in die Wes-Kaap begin, sal dit die eerste spanne van die HS Stellenberg en HS Durbanville wees wat na die kroon gesteek en geklop moet word.

Hierdie twee buurskole het die afgelope week goed stem dik gemaak in die voorseisoense Noord-Suid-toernooi waarby van die land se voorste rugbyspanne in Pretoria betrokke was.

Stellenberg het weggespring met ’n skitterende oorwinning van 34-33 oor die sterk span van HS Monument (Krugersdorp) waarna HTS Middelburg (Gauteng) dit die afgelope naweek met 19-10 moes ontgeld. Durbanvile het in sy eerste wedstryd teen HS Marais Viljoen (Alberton) amok gemaak en die Vaalpense ’n loesing van 85-8 toegedien. Die Durbies het 13 keer agter die (duidelik onvoorbereide) teenstanders se doellyn gaan draai terwyl 10 van die drieë in doele omskep is. Die afgelope Saterdag het Durbanville ook die span van HS Noordheuwel (Krugersdorp) met 36-5 afgestof.

Met hul deelname aan hierdie toernooi het die Stellies en Durbies ’n gerieflike voorsprong bo die ander spanne in die Tygerbergstreek opgebou ten opsigte van wedstrydgereedheid. Die komende Saterdag, met die aanvang van die WP-liga, sal Stellenberg (op sy tuisveld) vir eers ’n Suid-Kaapse teenstander, die Landbouskool Oakdale, aandurf. Hierdie Riversdal-span het verlede week ewe skitterend in die Noord-Suid-saamtrek vertoon deur betreklik maklik met sy twee teenstanders van Pretoria, Afrikaans Seuns Hoër en HS Garsfontein, af te reken.

Durbanville sal Saterdag in ’n weg-wedstryd gewikkel wees teen Parel Vallei, ’n nuweling in die WP se Premierliga. Brackenfell, wat besoek ontvang van die Hoërskool D.F. Malan, was die afgelope klompie jare meestal aan die wenkant teen die Bellvilliete – maar tog was dit D.F. Malan wat in hul vorige wedstryd in 2019 die septer geswaai het. HS Bellville speel gasheer vir HS Tygerberg wat in die afgelope dekade meestal die tuisspan se tier was. Maar ná die onlangse lang stilswye op die sportveld is enigiets moontlik as oor die wenkanse bespiegel word.

Ander o.19A-wedstryde: HTS Bellville t Milnerton, Hottentots-Holland t Fairmont, Parow t Kasselsvlei, De Kuilen t Excelsior, Elsiesrivier t President, Fairbairn t Parklands, Table View t The Settlers, Monumentpark t Jan van Riebeeck, Eben Donges t Scottsdene, Westerford t Bosmansdam.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article