Die opkomende Amerikaanse gospelkunstenaar Ben Fuller – bekend vir sy kragtige stem en unieke mengsel van rock, country en inspirerende lirieke – tree Saterdagaand die eerste keer in Kaapstad op as deel van sy heel eerste internasionale toer.
“Under The Mountain with Ben Fuller” word Saterdag 21 Februarie deur Radio Tygerberg 104FM in die wêreldbekende Kirstenbosch- nasionale botaniese tuin aangebied.
Fuller het vroeër hierdie week twee vertonings in Pretoria gehad. Hy het vandag (Vrydag 20 Februarie) in Kaapstad aangeland en was vir ‘n onderhoud in die Radio Tygerberg-ateljee op die “Lunch met Reinard”-program.
Fuller het vinnig een van die mees boeiende nuwe stemme in die Amerikaanse musiekbedryf geword, met trefferliedjies, miljoene stromings en optredes by ikoniese venues soos die Grand Ole Opry in Nashville. Hy het reeds saam met van die grootste name in Christelike musiek getoer, insluitend Casting Crowns, Zach Williams, Big Daddy Weave en We Are Messengers.
Sy rou, emosionele styl en breë aanhang het hom ‘n vinnig groeiende internasionale gehoor besorg en Kaapstad sal die tweede stad buite die VSA wees wat hom verwelkom.
Enkele kaartjies is nog op Webtickets vir hierdie eksklusiewe buitelugkonsert teen die asemrowende agtergrond van Tafelberg beskikbaar.






You must be logged in to post a comment.