Dunatos Remediërende skool in Bellville se matrieks spog vanjaar weer eens met ’n 100%-slaagsyfer.
“Sedert die skool die eerste keer in 2011 matrikulante gehad het, bereik die skool nog elke jaar hierdie besonderse prestasie,” sê Marilize van der Westhuizen, mediaskakel by die skool.
Vanjaar het 21 leerders gematrikuleer. Daar was ook drie A-vakgemiddeldes – van wie twee vir wiskundige geletterdheid en een vir toerisme.
“Dít bring sommer dubbele vreugde, aangesien dit ook vanjaar die skool se 21ste bestaansjaar is.”
Die skoolhoof, Susan van Zyl, sê vir haar was dit wonderlik om te sien hoe van die matrikulante, wat reeds van laerskool af by die skool was, oor die jare emosioneel en akademies ontwikkel het.
Die skool konsentreer meer op praktiese vakke in die hoërskool soos rekenaartoepassings-tegnologie, toerisme, ingenieursgrafika en ontwerp, landboutegnologie, landboubestuurspraktyk en verbruikerstudies.
Die skool bied ook suiwer wiskunde en wiskundige geletterheid aan. Met ’n maksimum van 14 leerders in ’n klas, voltooi die leerders hoofstroom-matriek.





