Agt verdagtes het Donderdag in die hof verskyn in verband met die ontvoering van n vrou (31).

Richard Roberts

Die saak teen agt mans wat verbind word met die ontvoering van ’n vrou van Welgemoed is gister (Donderdag 8 Junie) vir borgtog-inligting tot 15 Junie uitgestel.

Die groep het in hof H by die Bellville-landdroshof verskyn.

Landdros Martie Wilson het aan al agt genoem dat hulle deur vier aanklagte in die gesig gestaar word. Dit sluit in ontvoering, roof met verswarende omstandighede, afpersing en diefstal.

Die groep het glo op Vrydag 2 Junie die 31-jarige slagoffer in die Parow-nywerheidsgebied waar sy werk, ontvoer nadat sy haar gesin se sake-onderneming die betrokke aand verlaat het. Sy is verlede Dinsdag by ’n huis in Mfuleni  gevind. Haar voertuig is ook verlate in NY 99 in Gugulethu gekry nadat sy die aand nie by die huis opgedaag het nie.

Sy is intussen met haar gesin herenig.

Die verdagtes is deur ’n multidissipline-teenontvoeringstaakspan aangekeer, sê brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die agt beskuldigdes in die saak is Sivuyile Chris Mki, Lwazi Landzela, Athenkosi France Nyathi, Mandisi Mzikayise Zweni, Yamkela Gedeni, Zolile Sombo, Lwandile Mngazana en Siyabulela Madini.

Almal word aangehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article