Aaron ’n SA kampioen vir diskusgooi, wen bronsmedalje vir gewigstoot en word as victor ludorum in velditems aangewys

Aaron Knoetze


’n 11-jarige seun van Welgemoed is pas as die Suid-Afrikaanse kampioen in diskusgooi vir sy ouderdomsgroep aangewys – minder as ’n jaar nadat hy met dié sport begin het.

Aaron Knoetze het ook by die ASA nasionale kampioenskapsbyeenkoms vir laerskole in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal ’n bronsmedalje vir gewigstoot gekry en is as die victor ludorum in die velditems aangewys.

“Ek was baie opgewonde en verlig toe ek klaar was,” sê Aaron.

Aaron, wat in die Laerskool Totius is, was verlede jaar ook by die Suid-Afrikaanse kampioenskap, maar het net aan gewigstoot deelgeneem en ’n 11de plek behaal.

Hy het toe nog met ’n gewigstootbal van 2 kg deelgeneem.

Vanjaar neem hy deel met ’n bal wat 3 kg weeg.

Hy het verlede jaar begin diskus gooi en word deur Edwill van der Westhuizen van Edwill’s Throw Academy afgerig.

“Ek hou (daarvan), want dit is baie tegnies en uitdagend,” sê Aaron, wat ’n afstand van 44,74 m gegooi het. Hy het in die gewigstoot ’n afstand van 12,04 m gegooi.

Sedert hy vroeër vandeesmaand begin het, het hy die WP-rekord met meer as 2 m verbeter.

Aaron se pa, David, werk vir BHR Solutions, wat lugverkoelingspesialiste is, en sy ma, Angelique, is ’n gekwalifiseerde haarkapster.

Sy broer, Matthew, is in gr. 7 by dieselfde skool.

Wanneer hy nie diskusgooi of gewigstoot beoefen nie, hou hy van “basketbal speel in ons oprit en (om sy) ma se lekker kos te eet”.

Dit lyk of Aaron se hande nie vir iets verkeerd staan nie. Die seun, wat ook in rugby uitblink, wil eendag ’n breinchirurg word.

En as daar een ding is wat hy regkry, is dit om sy drome te bereik.

Maar hy is gou om ’n mens te keer as jy hom te gou prys.

“Jesus moet al die eer kry,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article