Tussen April en Junie vanjaar is vier moorde in Parow gepleeg, en ’n verdere vier gevalle van poging tot moord is aangemeld, volgens die jongste misdaadstatistieke.
Luidens die statistieke dui dié jongste syfers op ’n toename aangesien net een moord die vorige jaar oor dieselfde tydperk gepleeg is, en drie gevalle van poging tot moord.
Die statistieke vir die eerste kwartaal vir 2024 is verlede Vrydag bekendgemaak.
Altesame 11 gevalle van seksuele oortreding is ook tussen April en Junie in die gebied aangemeld – twee gevalle meer as die vorige jaar oor dieselfde tydperk.
Seksuele oortredings sluit verkragting (9) en seksuele aanranding (2) in.
Die getal voorvalle van aanranding is egter heelwat meer.
Luidens die jongste syfers is 18 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer en 61 gevalle van algemene aanranding aangemeld.
Roof het ook oor die driemaande-periode hoogty gevier.
Altesame 39 gevalle van algemene roof, en 96 gevalle van roof met verswarende omstandighede is hier aangemeld.
Ondanks die syfers het albei laasgenoemdes vanjaar ’n afname getoon.
Altesame 19 gevalle van huisbraak is aangemeld – drie minder as verlede jaar, terwyl agt gevalle van huisroof aangemeld is – drie meer as verlede jaar.Vyftig voorvalle van diefstal van motors en motorfietse is ook tussen April en Junie aangemeld.Dwelmverwante misdade is hoër as die vorige jaar.
Vanjaar is 172 dwelmverwante misdade aangemeld, luidens die statistieke.Vyf voorvalle van ontvoering – een minder as verlede jaar – is ook aangemeld.





