Die Hoërskool Stellenberg se pompon-meisie en -seun het skitterende prestasies by die International Cheer Union (ICU)-wêreldkampioenskap in Amerika behaal.
Marcel Fourie (gr. 12) en Paige Field (gr.10) is weer tuis ná hul deelname aan die kampioenskap in Orlando, Florida, tussen 23 en 25 April (“Stellenbergers gaan Amerika toe“, TygerBurger, 4 Desember 2024).
Die nasionale span het ten doel gehad om die pompon-sport te help bevorder deur Suid-Afrika op die wêreldverhoog te verteenwoordig. Die South African Majorette and Cheerleading Association (Samca) het altesaam ses nasionale spanne oorsee geneem.
Dit sluit meisies- en gemengdespanne in, waarvan elk van die drie afdelings in jeug-, junior en senior ouderdomsgroepe deelgeneem het.
KYK | Die SA span het in vyf kategorieë in die top-10 uit 120 lande uitgeblink:
- Jeug-meisiespan – 8ste plek;
- Jeug-gemengdespan – 4de plek;
- Junior-meisiespan (waarvan Paige ‘n lid is) – 7de plek;
- Junior-gemengdespan (waarvan Marcel ‘n lid is) – 5de plek.
‘n Onderwyser by Stellenberg, Elandri Venter, sê hierdie merkwaardige prestasie is die vrug van ure se harde werk, opoffering en toewyding. “As afrigter – saam met my twee mede-afrigters – is ons ongelooflik trots op hierdie twee leerders en hul internasionale prestasie. Cheerleading is een van die mees snelgroeiende sportsoorte in Suid-Afrika, en ons hoop dat Paige en Marcel se sukses ander sal inspireer om ook deel te word van hierdie dinamiese en opwindende sport.
“Baie geluk, Paige en Marcel – julle is ware ambassadeurs van ons skool en land!”


Hegte spanne gevorm
Marcel se ma, Marli, sê die twee kan steeds nie oor die oorsese avontuur uitgepraat raak nie.
“Die belewenis en eer om hul land te gaan verteenwoordig, was vir hulle ‘n besonderse voorreg. Die twee was ewe bewoë om terug te wees nadat hulle so geheg geraak het aan die nasionale span en so baie by mekaar geleer het,” sê sy.
“Ons spanne het ongelooflik goed gevaar en ons is supertrots op hulle wat SA se naam so hoog gaan hou het.”
Marcel deel dat die kampioenskap soos iets uit ‘n storieboek was. “Al ses die Suid-Afrikaanse spanne is deur na die eindronde, wat baie goed was! Cheerleading is werklik die beste sport wat ek nog ooit gedoen het. Dit het vir my al so baie nuwe vriendskappe gebring en hegte bande, wat geen ander sport vir my beteken het nie.”
Vir Paige was die wêreldkampioenskap van die ICU ‘n ongelooflike ervaring.
“Die meisiespan het só goed gevaar, en ek is só trots op ons. Ons het ons liggame en grense getoets en selfs die eindronde gehaal, wat ons verwagtings oortref het. Die span en ek het regtig deurgedruk deur die taai opleiding en dissipline. Ons het dalk nie gewen nie, maar iets het daardie dag verander – ons het almal nader aan mekaar gegroei en soveel sterk vriendskappe gevorm.”






You must be logged in to post a comment.