Ek sien Ou Toppie van Kuilsrivier kla verlede week oor Kaaps (“Ek hou nie van Kaaps”).
Soos hy dit so mooi stel het hy ‘n broertjie dood daaraan, want hy “pratie” so nie of meng nie juis met die wat so praat nie.
Ek moet sê hy klink ‘n bietjie verwaand synde dat hy die wat wel so praat se intellek of beskaafdheid bevraagteken (hulle het ”net-net gr.2 deurgeskraap of ken bloot nie ordentlike taal nie” in sy woorde, of is kwasi-skrywers of akademeci wat ‘n verhandeling moet regverdig).
Nee goeiste Ou Toppie ek dink dit is darem so ‘n aks of wat te dik vir ‘n daalder en ‘n bietjie neus in die lug.
Daar is mos plek vir skakerings in ons taal (en ja Afrikaans is almal wat dit praat s’n – ongeag hoeveel skakerings en nerings daar in daardie “ons” is).
Ek praat “okie” Kaaps nie maar hoekom sal dit ‘n ander pla hoe ek praat of nie praat nie of waarom sal ek my ontstel oor hoe ander praat – miskien moet ons eerder probeer om mekaar beter te verstaan ongeag hoe die woorde oor ons lippe rol.
Vir my lees Kaaps (soos in Nathan Trantraal onder andere) se skrywes ‘n biejie moeilik maar ek was al aangenaam verras want soms sê dit darem ‘n ding raak en gee lewe aan die storie.
Hier in die Kaap het ek buiten sommige Kaapse terme ook woorde uit die Moslem-gemeenskap begin leer ken. Na my mening verryk dit mens net.
Nee wat Ou Toppie moenie so ”judgerig wesie”.
Soos my ma altyd sê -leef en laat leef en gun vir almal (en hoe hulle praat) ‘n plekkie in die son.
Viva veelkantige Afrikaans!
Karien, Brackenfell




