‘n Oud-bendeleier en gevangene wat Saterdag ‘n boek oor sy lewe bekend stel sê hy hoop die boek kan in skole voorgeskryf word sodat dit kinders oor die gevare van bendes kan inlig.

Ivan Waldeck was in die jare tagtig en negentig die leier van die gevreesde Americans-bende en het ‘n spoor van geweld en moord agtergelaat. Só rof was hy in sy dae dat hy uiteindelik op 42 aanklagte van geweldsmisdade in die hof verskyn het.

Hy is uiteindelik op meer as die helfte van die aanklagte skuldig bevind en tien jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan hy agt jaar agter tralies deurgebring het.

Wil jongmense help

Vandag is Waldeck ‘n gemeenskaps- en geestelike leier wat die Cape Transformation-sentrum in Parow bedryf, waar hulle probeer om oud-bendelede in die gemeenskap te herintegreer.

Waldeck se boek, “Gates of Hell, Chronicles of an ex-gangster”, word eersdaags bekendgestel en hy hoop die onderwysdepartement kan die boek deel van die skoolkurrikulum maak.

“Die boek handel oor my lewe en hoe ek in die bendewêreld en in die tronk beland het. Dit het my drie jaar geneem om die boek te skryf, want ek wou elke detail deurgee sodat ek jong mense kan waarsku teen die gevare van bendes en misdaad.

“Die aantrekkingskrag van bendes is steeds baie sterk omdat die jeug organisasies soek om aan te behoort, maar hulle besef nie die verwoestende gevolge van bendes nie. Wanneer hulle eers in is, besef hulle hoe gevaarlik dit is en dan is daar nie meer omdraaikans nie,” sê Waldeck.

Bendes meer ‘gesofistikeerd’

Volgens hom is bendebedrywighede vandag baie meer gesofistikeerd as in sy dae.

“As ek moet terugdink, het dit verdriedubbel in die samelewing. Ons het begin met messe en later na vuurwapens oorgegaan, en deesdae is vuurwapens maklik bekombaar. Die bendes is ook meer professioneel en wreed,” sê hy.

Hy sê die moeilikste ding om uit die tronk te kom en sy lewe te verander, was om deur sy slagoffers se naasbestaandes vergewe te word.

“Toe ek uitkom, was dit ‘n koue, eensame, pynlike pad om te stap om my lewe reg te ruk.

“Die eerste persoon by wie se huis ek opgedaag het om verskoning te vra, het die deur in my gesig toegeslaan. ‘n Ander het op die grond gespoeg en gesê f*kk*f jou stuk gemors. Dit was ‘n moeilike pad,” sê hy.

  • Die boek is by Waldeck by waldeckw67@gmail.com of 063 6011 428 beskikbaar.
Die voorbald van Ivan Waldeck se nuwe boek. The Gates of Hell, Chronicles of an ex-gangster.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article