WAT DIE HART VAN VOL IS: ‘n Smullekker, maar hartseer Paasnaweek


Die Paasnaweek het gekom, en dit het gegaan.

Verlede week terwyl die televisienuus kyk, hoor ek hoe kla die visverkopers hoedat die prys van snoek en geelstert die hoogte inskiet omdat die eienaars van die vissersbote by die hawens die prys opstoot namate die aanvraag. Later in die berig word daar ‘n onderhoud gevoer met ‘n klant wat erken dat sy steeds haar vis sal koop vir die Paasnaweek om haar ingelegde vis voor te berei, ongeag hoe duur dit kos.

Dis elke jaar se storie.

‘n Tradisie wat seker meer as ‘n 100 jaar gelede sy onstaan in die Kaap gehad het, en tot vandag toe nog voortleef. Dis ‘n tradisie wat dwarsoor die land gevolg word, eg Suid-Afrikaans. Ek weet wel van ‘n paar Suid-Afrikaners wat die tradisie oorsee ook beoefen.

Dis nie ‘n maklike dis om voor te berei nie. Die resepte word op families se WhatsApp-groepe gedeel om seker maak die regte stappe word gevolg. Sommiges glo die vis moet ‘n paar dae voor die tyd ingele word, ander doen dit sommer die aand voor die tyd.

Ek kan eerlikwaar se dat ek nog nie een bord ingelegde vis geëet het, wat dieselfde gesmaak het nie. In sommige familiekringe word dit onder mekaar verruil. En moenie die vis uit die winkels koop nie, “want dit proe nie dieselfde nie”.

Die Paasbolletjies (“hot-cross buns”) bly ook nie agter nie. Ek ek het die week geleer watter winkels s’n smaak eintlik die beste, en waar ek die “buns” sonder die roesyntjies kan kry.

Die Paasnaweek is ‘n naweek wat gekenmerk word deur vis wat oor vier dae geëet word, kerkdienste op Goeie Vrydag en Paasdag, die Sondag, Paaseiers, en ook lang reistogte vir sommiges wat die langnaweek benut om by hul geliefdes te gaan kuier.

Kom veilig huis toe, ry stadig, maak seker jou voertuig is padwaardig en hou gereeld stil as jy moeg voel, lui die verkeersowerhede se boodskap aan sulke reisigers jaar na jaar.

Verlede jaar was ek en my gesin self deel van daai groep reisigers, maar vanjaar het ons verkies om in Jan Tuisbly se karretjie te klouter. Dit was ‘n vreedsame, tog geseënde naweek vir ons almal, en aanstaande jaar doen ons dit seker weer.

Die paaie is besig die tyd van jaar en ek lees in die nuus hoedat party reisigers nie hul eindbestemming gehaal het nie. “Vyf sterf in ‘n trompop botsing in Mpumalanga” en “Twee insittendes sterf toe hul ligte voertuig die pad verlaat het in Limpopo.” Dis die hartseer kant van die Paasnaweek. Hier in die Kaap is daar ook ‘n paar sulke gevalle aangemeld. Op Sir Lowrys-pas en op die Weskuspad was twee sulke gevalle.

Maandagoggend, op Paas Maandag, word die nuus met die hele wereld gedeel. Pous Franciskus is dood, kondig die Vatikaan in ‘n verklaring aan. Hy was 88 jaar oud. Die Pous was Argentyns en is beskryf as ‘n Pous vir die mense, iemand wat baanbrekersveranderinge gemaak het, lui van die nuusberigte. Die Britse premier en Franse president is onder die eerste wereldleiers wat hul medelye met die Katolieke-kerk meedeel.

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd is die VSA-president Donald Trump en sy tariefverhogings nie in die hoofopskrifte nie. Ek wonder of Trump van ingelegde vis sal hou?

Die Paasnaweek het gekom, en dit het gegaan.

Ek is lief vir vis – geelstert, snoek en stokvis – maar Maandag toe eet ek vleis, en dit het ek nog meer geniet.

Nou lê Kersfees vir ons voor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article