Speurders verbonde aan die Parow-polisie soek inligting wat kan help met die identifisering en opeis van ‘n lyk wat einde verlede jaar in Plattekloof gevind is. Die lyk van die 59-jarige man is op Dinsdag 27 Desember omstreeks 12:50 op die hoek van Olienhout- en Silwerboomrylaan langs ‘n heining gevind. Hy is op die toneel dood verklaar.
Volgens die polise is die man bekend as Marius Theron. Hy is na die forensiese patologie-eenheid by die Tygerberg-hospitaal geneem, waar ‘n lykskouing gehou is.
Tot op hede het niemand nog vorendag gekom om die lyk op te eis nie.
Die polisie probeer vasstel of daar enige ooggetuies is, en of enigiemand hom sedertdien as vermis aangemeld het. Theron was in ‘n swart baadjie en bruin broek geklee.
Kontak AO Eugene Human, ondersoekbeampte, by 021 992 9710 of 021 929 7108 of e-pos parowcid@saps.gov.za.





