Potjiekos is kuierkos, bewys die gewilde Tygerberg-sakekamer se potjiekoskompetisie jaar na jaar.
Vrydagmiddag was weer sulke tyd toe sakelui verbonde aan dié sakekamer hul kantore en skootrekenaars vir die saligheid van ‘n lekker vuurtjie onder pruttende potte verruil het – nes Suid-Afrikaners dit kan doen.
Al het die kwik by 33 grade Celcius gedraai, is daar vanaf 13:00 gewerskaf op die terrein van die Hoërskool Stellenberg om vure aan die gang te kry, aartappels te skil en uie te kap. Spanne het net ‘n bietjie meer as vier ure gehad om hul potte klaar te maak.
Daar is oudergewoonte meegeding om aangewys te word as die kampioene in die witvleispot, rooivleispot, beste potpoeding en die geheime sjefsuitdagingkategorieë.
Die immergewilde samekoms is nie net ‘n kompetisie nie, maar ook ‘n geleentheid om met ander sakelui te netwerk. Dus het deelnemers die kans gehad om nuwe mense te ontmoet en bestaande verhoudings te versterk terwyl die potte geprut het.
Beoordeling
Vanjaar se hoofbeoordelaars was Andriette Georgiou, naaswenner van Masterchef 2023 en eienaar van die suksesvolle Mondvol Koekies, en Karen Els, wenner van die vorige Kokkedoor: Vuur en Vlam. Hulle is bygestaan deur drie hulpbeoordelaars van Northlink Kollege se spyseniersafdeling, Annien Lategan, Liezl Cornelissen en Retha Swart.
Teen 17:30 was die spanne gereed om hul potjies met trots aan die beoordelaars voor te sit – alles van tradisionele disse tot meer innoverende idees.
Bolt Risk Management van Brackenfell het weggestap met ‘n eerste plek in die rooipotkategorie, gevolg deur Radio Tygerberg en Renosterbos.
Die Alta du Toit-sorgsentrum het die witpot gewen en die beste potpoeding is gemaak deur Renosterbos.
En soos elke jaar die geval is, was dit nie net oor lekker kos nie, maar het die Tygerberg-sakekamer daarin geslaag om ‘n atmosfeer van samewerking en kameraderie te skep onder sy lede in die noordelike voorstede van Kaapstad.
Sunél Beeselaar, voorsitter van die Tygerberg-sakekamer, sê die potjiekoskompetisie is die hoogtepunt op die sakekamer se kalender. “En soos altyd het dit geensins teleurgestel nie. Sake-ondernemings het met groot gees en lekkerte die potjies kom aanpak. Die sakekamer is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning van die ondernemings en skenkings van fantastiese pryse vir die wenners,” sê Beeselaar.






