’n Motordief is verlede Woensdag vasgevat ná ’n wilde jaagtog deur Brackenfell, minute nadat hy ’n voertuig in Meerluststraat in Oakdale gesteel het.
Volgens Wayne Dyason, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid, het getuies gesien hoe twee gewapende mans in ’n bakkie die verdagte vroëer die oggend in Meerluststraat aflaai.
“Om sowat 11:15 het twee van ons wetstoepassingsbeamptes die gesteelde wit Toyota Tazz in William Dabsstraat gesien afjaag in die rigting van die treinstasie, met ’n maroen Jeep wat hom agternasit,” sê Dyason.
Dit is later vasgestel dat die bestuurder van die Jeep die wettige eienaar van die Tazz is. “Hulle het dadelik onraad vermoed en die voertuie agternagesit in die rigting van die R300-afdraai.”
Volgens Dyason het die verdagte oor verskeie rooi verkeersligte gejaag en amper ’n groot botsing veroorsaak.
“Die beamptes het hom egter nie verloor nie en met die hulp van die bestuurder in die Jeep, die verdagte op die R300-afdraai ‘ingeboks’,” sê hy.
Hy het probeer weghardloop, maar is vinnig deur die beamptes ingehaal.
“Hy is in hegtenis geneem en van motordiefstal aangekla.”
Volgens Duayson is die twee gewapende medepligtiges nie opgespoor nie.





