Die heining by die Durbanville-biblioteek gaan geskuif word om voorsiening te maak vir die verbreding van Oxfordstraat om ’n linksdraaibaan vanuit Oxfordstraat in Koebergweg toe te laat.

Die heining sal ook só geskuif word om die speelpark in te sluit.

Dit gaan meer parkering – moontlik tot 32 nuwe parkeerplekke – rondom die biblioteek meebring.

Dit het aan die lig gekom by ’n vergadering van subraad 7 verlede Maandag in Durbanville.

Theresa Uys, raadslid vir wyk 112, wat die sakekern insluit, het gesê motoriste is gefrustreerd met die verkeersvloei wat veroorsaak word deur die bouwerk aan die nuwe Village Square-winkelsentrum op die hoek van Oxford- en Queenstraat.

“Dit is egter net tydelik en mense moet geduldig wees – hulle gaan aangenaam verras wees as alles klaar is,” het sy gesê.

Die linksdraaibaan gaan gedeeltelik oor die hoek sny, en daarom moet die heining geskuif word.

“Met die vier parkeerplekke in Oxfordstraat wat ingeboet gaan word om vir die linksdraaibaan voorsiening te maak, is daar nou ’n behoefte aan nog parkering,” het sy gesê.

Ten minste 17 nuwe parkeerplekke gaan teenaan die park toegeken word, terwyl nog sowat 15 parkeerplekke aan die kant van Koebergweg toegeken word.

Uys het aan TygerBurger gesê ’n hek sal in Koebergweg aangebring word om maklike toegang aan leerders van die Hoërskool Durbanville na die biblioteek te verseker.

Nog twee hekke, in Oxfordstraat en aan die munisipale kantore se kant, sal aangebring word. Met die speelpark omhein, sal dit ook groter veiligheid vir die kinders in die park meebring. “Dit sal daartoe lei dat ouers die speelpark beter kan benut,” het sy gesê. Die geld vir die projek moet nog toegewys word.

Gerhard Fourie, subraadvoorsitter, het aan TygerBurger gesê die bestaande heining se panele, asook ou panele van die heining voor die munisipale kantore, sal gebruik word.

Geld gaan ook benodig word vir die verharding van die padoppervlakte waar die nuwe parkeerplekke aangebring gaan word, het hy gesê.

Die swak toestand van die tuin van die Durbanville-biblioteek het ook onder die loep gekom. Uys het gesê die biblioteek word deur talle mense besoek en die Stad moet by die diensverskaffer wat die tuin moet versorg, uitvind wat die probleem is.

 Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article