Die geliefde tenoor Louis Loock bekoor gehore deesdae tot in Australië met sy ligte klassieke aanslag.

Kapenaars is bevoorreg om op Dinsdag 6 November hier op hul voorstoep vir die eerste keer na van sy nuwe, oorspronklike liedere te luister met sy optrede in ’n liefdadigheidskonsert in Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville. Die optrede word gehou ten bate van die Yarden Children’s Enrichment Centre in Durbanville.

Loock, wat in die Strand bly, was deel van die groep Romanz, wat enorme sukses behaal het – in Suid-Afrika, asook internasionaal. Sedert 2013 betree Loock verhoë en teaters landwyd. Hy het onlangs ook optredes in Australië begin doen. Met sy konsert by Die Boer wil hy van sy nuwe, oorspronklike liedere bekendstel, en sal dit die eerste keer wees dat hy dit in die openbaar uitvoer.

Die 37-jarige Loock verruil deesdae ook sy verhoogpak vir ’n hofkleed, aangesien hy onlangs voltyds as konsultant by Louw Ingelyf in Somerset-Wes begin werk het. “Ek is in litigasie en spesialiseer in kontraktereg, boedels en testamente, maar het ook reeds ’n paar kriminele regsake afgehandel,” sê hy. “Dit is nogal uitdagend om die twee wêrelde gelyk te bestuur. Ek bring egter nie die twee bymekaar nie. Wanneer ek my hofkleed aantrek, is ek prokureur, en wanneer ek my verhoogpak aantrek, is ek sanger,” sê hy.

Hy sing al van jongs af. “Ek dink as jy goed doen in sangkompetisies op skool, dan hou ’n mens aan. Ek het ’n groot liefde vir die verhoog en alles wat daarmee saamgaan.

“Ons is van kleins af na opvoerings geneem en ek was betower deur die idee om vir ander mense konsert te hou. So baie mense het ’n invloed gehad in die ontwikkeling van my musiek en sang – van my eerste sangjuffrou tot Nellie du Toit, wat my die tegniek van goeie sang geleer het.

“Selfs my ouers, wat hul passie vir musiek aan my bekendgestel het, het ’n invloed gehad. Liedjieskrywers, vervaardigers en medekunstenaars help almal vorm aan ’n sangloopbaan,” sê hy.

Met ’n pa, Hennie Loock, wat ’n leeftyd by die Tygerberg-kinderkoor betrokke was, is dit dan ook net te wagte dat hy met sy sangtalent ook in dié koor gesing het. “Dit verg baie opofferings van beide ouers en kinders – gereelde tye weg van mekaar, maar in dieselfde asem kan ek sê dat ek die hele Europa saam met my ouers kon sien en beleef. As dit nie vir die Tygerberg-kinderkoor was nie, sou ek nie die land saam met my pa en ma kon sien nie,” sê hy.

Ook sy ma het ’n groot rol in sy sangloopbaan gespeel. “Buiten dat ek die voorreg het om my ma se musikaliteit voort te sit omdat ek uit haar gene saamstel is, het my ma soveel keer vir my klavier gespeel.

“Ons kon mekaar aanvoel. Sy het vinniger gespeel as ek vinniger wou sing. Dieselfde ook met volume, aanvoeling en vertolking.

“Ek sal dit mis om elke nuwe liedjie wat opgeneem is vir haar te gaan speel, maar ek weet ons sal eendag weer saam musiek maak.”

In die konsert gaan hy ook sy liefde deel vir ander musieksoorte. Gewilde swing-liedere soos “Beyond the sea”, “Mr Bojangels” en ander gunstelinge word gesing, asook liedere van die Beatles – uitgevoer in ligte klassieke styl. Hy word begelei deur Rika Vermeulen op klavier.

Die konsert begin om 20:30. Kaartjies kos R130. Kom geniet ’n aand vol goeie musiek, geselskap en smullekker kos by Die Boer.

 Kontak 021 979 1911 of www.dieboer.com vir meer inligting en om kaartjies te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article