Hierdie Parabuthus granulatus-skerpioen het ’n man van Welgemoed gesteek. Dit was ongeveer 12 cm lank.

ANNEMARIE HATTING

Inwoners word gewaarsku om hulself te beveilig teen uiters giftige skerpioene van so groot as klein krefies – tot 15 cm lank, wat sedert Januarie oral in die Blomvlei-buurt in Welgemoed opgemerk word.

’n Inwoner, Gerrit Hattingh (57), is op Vrydag 8 Februarie omstreeks 12:00 by die watertenk van hul huis op die hoek van Van der Merwesingel en Patriotstraat gesteek.’n Reuse-skerpioen is ook verlede Vrydagaand in die straat by ’n straatbraai in Van der Merwesingel opgemerk, terwyl inwoners op Facebook rapporteer dat talle al in swembaddens of naby watertenks in die buurt gekry is.

Inwoners word op die Welgemoed Forum, se Facebookblad gewaarsku teen die dodelike skerpioene. 

Die Blomtuin-buurt is naby die onderpunt van die Bellville-gholfbaan en agter die fynbosveld van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool geleë. Dis egter ook moontlik dat dié skerpioene naby enige soortgelyke fynbosveld kan voorkom.

Die vermoede is dat die skerpioene in die droë klimaat agter water aan beweeg. Hattingh wou die kraan van hul watertenk oopdraai toe die skerpioen hom in sy regterwysvinger gesteek het. Volgens Hattingh het hy onmiddellik “die mees ontsettende pyn” in sy hand gevoel. 

Volgens sy vrou, Annemarie, is hy dadelik dokter toe waar hy met antihistamiene en pynmedikasie behandel is, maar was so in pyn en sy spiere het begin verlam, dat hy 15:00 weer dokter toe is. 

Toe hy die nag steeds in erge pyn verkeer en sy simptome vererger, het sy hom omstreeks 01:00 na die ongevalle-afdeling van die Louis Leipoldt Mediclinic geneem. Hy is daar op ’n drup gehou en eers Sondagmiddag ontslaan.

“My man is ’n sterk, gesonde mens. ’n Mens wil nie dink wat kon gebeur het as dit ’n klein kind of troeteldier was wat gesteek is nie,” het Annemarie gesê.

Volgens haar het sy ’n groot skerpioen ook in Januarie reg langs haar seun (16) se bed gekry, asook ’n paar kleintjies in haar kombuis. Hul tuinwerker het ook gesê hy het al ten minste twee uit die swembad gehaal.

Die skerpioen, asook die een wat in die straat gevind is, is deur die Tygerberg-gifinligtingsentrum van die Universiteit Stellenbosch as ’n Parabuthus granulatus geïdentifiseer – een van die giftigste skerpioene wat in Suid-Afrika voorkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article