Twee mans – een van Brackenfell en die ander van Kraaifontein – het gister (Dinsdag 1 Februarie) in die Blue Downs-landdroshof verskyn op aanklag van ’n moord Saterdagmiddag op ’n plaas aan die Bottelarypad.
Die oorledene, ’n 35-jarige man van Kraaifontein, is Saterdag deur die polisie op die plaas dood aangetref.
Beskikbare inligting dui daarop dat ’n bakleiery omstreeks 10:50 tussen die oorledene en nog twee mans uitgebreek het.
“Volgens inligting is die oorledene deur een van sy aanvallers gekonfronteer omdat hy glo vals inligting oor hom aan ander mense versprei het. Die mans het begin stry en ’n bakleiery het uitgebreek. ’n Ander man, ’n vriend van die aanvaller, het ook by die bakleiery betrokke geraak,” sê kapt. Erica Crous, ’n polisiewoordvoerder.
“In die bakleiery het die oorledene ’n messteek in sy bolyf opgedoen voordat sy aanvallers op die vlug geslaan het. Ander mense op die plaas het die polisie ontbied,” sê Crous.
Toe die polisie op die toneel kom, was die man reeds dood.
Speurders van Brackenfell het met hul ondersoek die twee aanvallers by ’n huis in Watsoniapark in Kraaifontein opgespoor, waar hulle in hegtenis geneem is.





