’n Stegie in Morgenster wat deur misdadigers as ’n wegkomroete gebruik word, besorg plaaslike inwoners groot hoofbrekens.

Dié stegie, op stadsgrond in Oudedam cul de sac, is nie net deurentyd oorgroei en vuil nie, maar ook ’n groot veiligheidsrisiko vir inwoners, volgens Jacques van Zyl.

“Inwoners wou al lankal hê dat die stegie toegemaak word. Daar is ’n hek, maar as ’n mens dit sluit, word dit eenvoudig afgebreek deur diegene wat die stegie gebruik,” sê hy.

“Verder is die plek baie vuil en slordig en die gras is lanklaas gesny en skoongemaak. Die gebied is heeltemal oorgroei en ’n wegkruipplek vir misdadigers.”

Van Zyl en ander inwoners vra die Stad Kaapstad om dringend in te gryp.

“As inwoners het ons al baie klagtes by die Stad ingedien, maar niks word gedoen nie,” beweer hy.

Van Zyl meen daar moet nou met groot dringendheid opgetree word.

Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, Rob Quintas, het Maandag bevestig dat die Stad se padinfrastruktuurbestuur die kwessie sal ondersoek en ook die deurloop sal laat skoonmaak.

Volgens Quitas is ’n heining teen die einde van 2016 wel as ’n stadswykprojek daar opgerig. Dit was in reaksie op ’n versoek van die Morgenster- en St. Michaels-buurtwag.

“Hoewel die gebied tussen die huise en die spoorlyn (waar die stegie is) as ’n openbare pad gesoneer is, was dit nooit die bedoeling om dit as sodanig te benut nie. Dit was altyd geoormerk om te dien as ’n gebied waar ’n verskeidenheid munisipale dienste soos water, riolering, stormwater en elektriese dienste geakkommodeer sou word. Die heining was toegerus met ’n hek en ’n slot; sou die slot gesteel of gevandaliseer word, moet dit by die Stad aangemeld word, waarna ons dit kan vervang,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article