John Ross, voorsitter van die Goodwood-gemeenskapspolisiëringsforum.


’n Dinkskrum is onlangs in Goodwood gehou waar almal wat die belange van die inwoners van die groter Goodwood op die hart dra, hul suksesse en nederlae van 2021 met mekaar gedeel het.

Die teenwoordiges was lede van die buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforum, Cecile Janse van Rensburg, die plaaslike wyksraadslid, die polisie en wetstoepassers.

Volgens James Ellis, voorsitter van die Glenwood-buurtwag, was die vergadering baie suksesvol om vir vanjaar te beplan ten einde Goodwood die voorste woonbuurt in die noordelike voorstede te maak.

“Elke organisasie wat teenwoordig was, het sy suksesse en ook probleme gedeel en ons almal sal nou saamwerk om ’n plan te maak om dinge in Goodwood vir die res van die jaar beter te doen. Ons almal is geraak deur die Covid-19-pandemie en het, waar ons kan, koppe bymekaar gesit om met insamelings vir minderbevoorregtes te help.

“Ons het einde verlede jaar op groot skaal skryfbehoeftes vir die Laerskool Elnor in Elsiesrivier ingesamel en dit aan die skoolhoof oorhandig,” sê hy.

Die polisie het die buurtwagte van Monte Vista en Goodwood bedank vir hul oplettendheid toe kabels by die Monte Vista-stasie gesteel is en hulle ’n siviele inhegtenisneming gedoen het. Die skuldiges is later aan die polisie oorhandig en het reeds in die hof verskyn.

Een van die grootste probleme vir die inwoners wat naby die Goodwood-stasie woon, is die onwettige taxi’s wat enige plek ’n staanplek maak – veral in Stasieweg tussen die huise. 

“In ’n vorige berig wat verlede jaar in TygerBurger verskyn het, is na die onwettige taxistaanplek verwys en die Stad Kaapstad het onderneem om ondersoek in te stel na ’n taxistaanplek wat vir almal aanvaarbaar sal wees. Daar was selfs sprake dat die ou busterminus by die Goodwood-stasie as ’n taxistaanplek gebruik gaan word, en die inwoners was baie ongelukkig, want daar was geen openbare deelname oor die besluit nie. Die Stad Kaapstad het die taxistaanplek voor die Libertas-woonstelle as ’n tydelike maatreël beskou, en daar is nou nog nie uitsluitsel oor ’n wettige taxistaanplek gegee nie,” sê Faizel Petersen, voorsitter van die Goodwood-belastingbetalers- en inwonersvereniging (GRRA).

“Taxibestuurders steur hulle nie aan ander padgebruikers nie en veroorsaak telkens opeenhopings by die aansluiting van Jakes Gerwel-rylaan en Voortrekkerweg. 

“Dalk kan op- en aflaai-sones langs Jakes Gerwel-rylaan afgebaken word, veral daar waar bushaltes is, want dis ’n besige aansluiting. Dis van die probleme in Goodwood wat ons vanjaar gaan probeer oplos,” sê hy.

John Ross, voorsitter van die Goodwood-gemeenskapspolisiëringsforum, het by die dinkskrum uitgewei oor die verantwoordelikhede van die GPF en gesê as al die planne wat by die dinkskrum bespreek is, uitgevoer kan word, sal Goodwood die eerste keuse van almal wees om daar te kom woon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article