Van links is Elizabeth Nimrod (tuin-koördineerder), David Petersen (tuinier), Francois van Wyk (skoolhoof) en Lindelwa Sopotela, Wes-Kaapse bestuurder van die voedingsprogram, by die prysoorhandiging Vrydag.


Groot opgewondenheid het op Vrydag 11 Februarie by die Laerskool Irista geheers toe die skool se groentetuin met R20 000 beloon is.

Die skool se tuin was die wenner in die afdeling vir stedelike skole in die Wes-Kaap in ’n kompetisie van die Nasionale Skoolvoedingsprogram van die onderwysdepartement.

Francois van Wyk, die hoof, sê hy het soos wyle emeritusaartsbiskop Desmond Tutu gesing en gedans van “uitbundige vreugde” oor die toekenning.

As ’n “geen-fooi-skool” en in die konteks van ’n gemeenskap met uitdagings, sê Van Wyk, is kort ná die aanvanklike inperking in 2020 besluit om die tuin te begin. “Ons het die inisiatief geneem om ons gemeenskap te help voed.’’

Van Wyk sê aanvanklik het die skool se kombuis baie ondersteuning en skenkings van restaurante en hotelle “tot so ver as die Waterfront en Seepunt’’ gekry. Die voortslepende pandemie het ’n impak op die ondernemings gehad en die skenkings het al minder geraak, vertel Van Wyk.

“Toe was ons aangewese op plaaslike mense, soos Roland Huckle, wat onderneem het om maandeliks R500 te gee. Dan koop ons iets vir die kombuis.”

Van Wyk sê aangesien die skoolkombuis op voeding vir die gemeenskap begin sentreer het, was die groentetuin die volgende stap om dit meer volhoubaar te maak. Die eerste aanplantings is teen die middel van 2020 gedoen.

Van Wyk sê almal het toegewyd te werk gegaan en kundigheid is ingewin oor bemesting en dies meer. “Ons het ook skenkings van plantjies gekry – alles die goedhartigheid van die publiek.”

Die skool dring nou deur na die nasionale ronde van die kompetisie waar die uiteindelike wenskool met ’n splinternuwe kombuis beloon gaan word.

Aanvanklik, toe die skoolvoedingsprogram by Irista begin is, het elke leerder net twee toebroodjies met grondboontjiebotter en konfyt gekry. “Nou kry hulle ’n gebalanseerde dieet wat deur ’n dieetkundige saamgestel word – ’n ete,” sê Van Wyk.

Buiten die maaltye wat die leerders ontvang, verskaf die skool se kombuis elke Maandag en Woensdag kos aan tussen 800 en 1 100 mense in die gemeenskap. Dit kom uit skenkings en die tuin, sê Van Wyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article