Die kykNET-Buite-ekspo word weer vanjaar op die plaas Môreson buite Malmesbury aangebied.
Die Ekspo vind plaas van 25 tot 27 Maart. Streng Covid-19-protokol sal toegepas word.
Die ekspo beloof weer om soos vantevore iets vir almal te bied. Die fokus is op die talle buitelewe-uitstallers wat van die nuutste produkte in die buitelewe-, kampeer- en 4×4-mark beskikbaar het. Die geleentheid vind plaas in ’n veilige plaasatmosfeer en alle uitstallings word aangebied soos die produkte in die werklikheid deur die koper gebruik sou word.
Verskeie aktiwiteite word weer as deel van die ekspo aangebied. Action Ford Malmesbury se Ford Raptor-ervaring gee aan die publiek kans om gratis saam met ervare bestuurders te ry en te sien waartoe hierdie ongelooflike voertuie in staat is. Bekyk die Swartland uit die lug in een van die gewilde helikopterritte. ’n Lekker braaikompetisie word saam met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs aangebied. Moenie vergeet van die Hankook-kunstenaars wat gaan optree nie, onder andere Rooies en sy orkes, Desmond Wells, Johan Liebenberg, Wynand Windpomp, Dewald Dippenaar, Chereé, Amoré en Early B.
Kom ry ook gratis saam met die immergewilde André de Villiers (Mnr. 4×4) van André 4×4 en aanbieder van Safari 4×4 Roetes op kykNET in sy VW Amarok.
Besoekers kan ook uitsien na ’n groot verskeidenheid vloeibare verversings uit die boonste rakke – enigiets van ’n verskeidenheid wyne in die Swartland Kelders-wyntuin (met heerlike kos wat hierby pas), tot bier en jou gunsteling-hardehout en nog meer. ’n Groot verskeidenheid kosverskaffers sal ook daar wees. Wie kan nou nee sê vir lekker feeskos?
Die vroue kan ’n kuns- en snuffelmark geniet waar ’n groot verskeidenheid gehalteprodukte beskikbaar sal wees.
Vir die kinders sal daar ’n lekker groot pretpark wees en Lollos en Lettie verras weer op die Sondagoggend met een van hul treffer-vertonings.
Dagbesoeker-kaartjies sal binnekort beskikbaar wees by ticketmaster.co.za en ook by die hekke gedurende die ekspo. Besoekers word aangemoedig om kaartjies aanlyn te koop indien moontlik – dit vergemaklik dinge by die hekke.
Besoek www.ekspo.co.za vir meer inligting. Navrae kan gerig word aan Tersia by accounts@ekspo.co.za.




