’n Sakeonderneming in die nywerheidsgebied Saxenburgpark 2, wat sowat ’n jaar gelede met ’n maandelikse skoonmaak-projek begin het, nooi ander ondernemings uit by die inisiatief aan te sluit. Christiaan Bester, bestuurder van Talisman Hire Blackheath, sê hulle het vroeg verlede jaar begin om die omgewing waar hul perseel is, te probeer skoon hou.
Hy sê die personeel maak een keer per maand, gewoonlik op ’n Vrydag in die middel van die maand, ’n gedeelte langs die R102 (Van Riebeeckweg) asook reg rondom hul perseel tot by die onderneming se hoofingang in Vonkelstraat skoon.
“Ons bedoeling met hierdie projek is om die ander ondernemings in ons omgewing te kry om as ’n gemeenskap saam te werk sodat ons omgewing skoner en netjieser kan wees. Dit is tog bewys dat skoner gebiede vir almal meer aanloklik is en dat misdaad ook laer is waar netheid en orde geld,” sê Bester. Hy wil graag hê dat gemeenskappe moet beheer neem oor die gebiede waar hulle woon en werk.
“As elke individu en sakeonderneming sy deel doen, kan dit ’n baie groot impak op ons land hê. Ons nooi graag ander ondernemings om deel van hierdie inisiatief te wees. Dit is ten bate van ons as ondernemings, ons werkers, ons kliënte en die nalatenskap vir die volgende geslag.”
Kontak Bester per e-pos by christiaan.bester@talisman.co.za of 021 905 9475.





