Valentynsdag is altyd ’n groot gebeurtenis. By die Tygerberg Dienssentrum vir seniors, of Meals on Wheels soos dit alom bekend is, bly dit ook nie agterweë nie.
Die meeste van hulle is reeds lank alleen nadat hul gades weggeval het, maar van hulle sal steeds die “rooi en wit” in die liefde wil vind.
So het hulle lank vooraf reeds aan hierdie spesiale dag beplan en het die span die seniors baie opgewonde gemaak oor ’n uitstappie na Tolla’s Place in Brackenfell.
“Ons het op Facebook geadverteer en gevra of iemand nie kolwyntjies aan ons wil skenk nie sodat ons darem iets soets vir hulle kon hê. Groot was ons verbasing oor die reaksie daarop – elkeen het ’n kolwyntjie gekry. Selfs die personeel kon deel daarin hê,” sê Anne-Marie Watt, bestuurder van Meals on Wheels in Parow.
“Die 14de Februarie is gewoonlik ’n baie besige dag, dié dat ons toe besluit om ons eie dag vir Valentynsdag te skep en 15 Februarie was dit ons oomblik om mooi te lyk – mooi getooi in rooi, wit, blou of sommer net waarvoor jy lus was die dag. Ons het die kombi’s gelaai en die pad met propvol voertuie aangedurf. Die personeel kon die dag saam met ons deurbring, want hulle kan ook mos die liefde waardeer,” se Watt.
Tolla’s Place was voorwaar net waarna almal uitgesien het – ’n heerlike onderdak-geselligheid met tafels, stoele en ook ’n waterbaan wat in die swembad ingelei het.
“Van die brawes het dit daar af gewaag terwyl die ander net heeldag in die water rondgehang het.
“Dit was verskriklik warm.
“Dan was daar die hitteliefhebbers wat nie omgegee het om in die son te sit en bak nie. Gelukkig was daar heerlike eetgoed, yskoue drinkgoed en ook tee en koffie om te geniet terwyl hulle met mekaar gesit en gesels het. Ons het ook ’n ligte middagete geniet.
“Klagtes was daar wel, maar dit was goeie klagtes – die kos was ‘te veel’,” skerts Watt.
Die terugrit was vol lag en gesels van almal wat die waterwurm aangedurf het. As jy nie oppas nie, beland jy baie diep (veral as jy probeer snaaks wees).
Soveel pret op een dag het almal uitgeput en die terugkoms ná Tolla’s Place was stil, want dit was vir baie seniors tyd vir hul middagslapie.





