Ek het Amerika in 2007 saam met twee vriendinne besoek. Ons het ’n maand lank in ’n gastehuis in Florida gebly.

Die eienares van die plek het ’n soort akkedis in haar kombuis gehad – nie die gewone akkedis waarmee ons hier bekend is nie; dié reptiel was ietwat groter en geel.

So het sy daagliks vir “Schainler” (soos sy haar grillerige troeteldier gedoop het) wurms by ’n nabygeleë dierewinkel gaan haal – ’n ritueel wat daagliks plaasgevind het.

Ons het eendag aanskou hoe sy die wurms in die vierkantige glaskas ingooi. Dan kon haar akkediskind lustig aan sy krioelende wurms smul!

Eendag het ons weer na Schainler gestaan en kyk en heimlik gewonder hoe ’n vrou so gek kon wees om so ’n ding, nogal in haar kombuis, aan te hou? Sy’t blykbaar gedink ons vind hom oulik. Sy’t die bal heeltemal misgeslaan! Veel eerder sou ons hom iewers in lang gras wou gaan loslaat!

Eendag toe sy weer die akkedis se kos in sy glaskas ingooi, beweeg ons ook nader vir die skouspel tussen die akkedis en die vetgevoerde wurms.

Wat sy ons toe meegedeel het, het ons laat wonder of sy haar varkies verloor het.

Mense, julle mag maar lag! Ons kon nie, al wou ons in ’n lagbui uitbars! Ons moes immers goeie maniere teenoor ons gasvrou openbaar.

Sy het ons meegedeel dat sy haar akkedis die volgende dag weer vir sy jaarlikse ondersoek en beendigtheidstoets na ’n veearts moes neem.

Oor die algemeen laat meestal vroue ’n beendigtheidstoets doen waarmee vasgestel kan word of hy of sy osteoporose het.

Bid jou aan, ’n akkedis wat vir so ’n toets gaan!

Ons het gewonder of die vrou net baie liefdevol was en of daar dalk fout in die kop was?

Of, het die fout by ons drie Suid-Afrikaners gelê?


Jossie JoosteBrackenfell

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article