’n Vermeende dwelmhandelaar is verlede week in Sarepta aangekeer.
Sers. Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, sê beamptes van die plaaslike polisie se misdaadvoorkomingseenheid het verlede Woensdag (9 Maart) om 09:30 patrolliediens in Wattelstraat gedoen.
Die beamptes het ’n man gesien uitkom by ’n perseel wat welbekend is vir die verskaffing van dwelms. Die man het begin hardloop toe hy die polisievoertuie sien en is by ’n huis in Wattelstraat in.
Die polisiebeamptes het die man agternagesit en gesien hy gooi iets tot bo-op ’n klerekas.
Binne-in die pakkie is tik met ’n straatwaarde van R1 225 en Mandraxtablette ter waarde van R4 080 gevind. Die 22-jarige man, wat ook R390 in sy besit gehad het, is weens handel in dwelms in hegtenis geneem.
Kol. Jayce Naidoo, die stasiebevelvoerder, het die beamptes vir hul goeie werk geprys.
Naidoo het ’n versoek aan die gemeenskap gerig om aan te hou om die polisie te help met inligting sodat meer misdadigers aangekeer kan word.





