Lede van die SA Water Warriors pak die kospakkies uit wat aan die sowat 120 gesinne in Springbok uitgedeel is.

Credit: SYSTEM

Namakwaland en die Boesmanland het die eerste keer in nege jaar reën gekry en die boere se geesdrif loop hoog dat dinge voortaan beter sal gaan.

Die SA Water Warriors het op Saterdag 12 Maart van Goodwood af uit die Kaap na Springbok vertrek met nodige kos en voer.

“Die reën wat geval het, is dalk ’n teken dat die reënval-siklus stadig besig is om terug te keer na die dorre dele van die Noord-Kaap. Die voortslepende droogte, wat soveel jare verwoesting gesaai het, het boere nie net op hul knieë nie, maar het hul planne en deursettingsvermoë op die proef gestel. Baie het geen ander uitkoms gehad as om skuld aan te gaan nie en baie boere het bykans 90% van hul vee verloor,” sê Deon Smit, stigter van die SA Water Warriors.

Boere het hul reënbuie en die feit dat dele van die veld besig is om te herstel, op sosiale media met mekaar gedeel.

“Ongelooflik baie vee word deesdae aan die lewe gehou deur uit die boer se hand te eet. In sommige dele van Namakwaland en Boesmanland het boere nie reën gekry nie en kon ons danksy skenkings na sowat 120 gesinne uitreik met nie-bederfbare kospakkies, bederfpakkies vir die vroue en voer vir hul diere. Elke kospakkie is met dank deur almal ontvang.

“Vir ons is dit nie net die produkte wat ons aflewer nie, maar ook om die mense nuwe hoop midde die droogte te gee. Dis vir ons ’n voorreg om te kan help waar die nood groot is en ons is net die skakel tussen die publiek en die gesinne in droogte, wat die hulp nodig het,” sê Smit.

Die SA Water Warriors is reeds besig om hul volgende uitreik te beplan en belangstellendes kan hul Facebookblad volg of Deon Smit by 082 738 2702 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article