Baba Kayden Jeffries. Hy is Maandag uit die Rooikruis-kinderhospitaal ontslaan.

Credit: SYSTEM

Dit gaan goed met die tweejarige Kayden Jeffries, wat onlangs vyf keer deur vermeende bendelede geskiet is.

Kayden, van Bishop Lavis, het buite gespeel toe hy voorverlede week deur koeëls wat vir vriende van sy pa bedoel was, getref is. Hoewel hy die skietery oorleef het, sit nog drie koeëlpunte in sy lyf vas.

Charles Esau, die plaaslike raadslid, sê hy het Kayden verlede week by die Rooikruis-kinderhospitaal, waar hy behandel is, gaan haal.

“Ek kon nie glo dit is dieselfde kind wat vyf keer geskiet is nie. Hy het gelag en gespeel en was ’n tipiese besige tweejarige. Toe hy tuis kom, wou het net sy motorfietsie hê om te gaan rondry. As ’n mens hom sien, wil jy hom net vasdruk,” sê Esau.

Volgens Esau is dit nog nie seker wanneer en of al die koeëlpunte uit sy liggaam verwyder gaan word nie.

“Al wat ek in hierdie stadium weet, is dat dit goed gaan. Die dokters het gesê sodra hy enige pyn ervaar, moet hy dadelik terug hospitaal toe geneem word,” sê Esau.

Hy het ’n beroep op inwoners van Bishop Lavis gedoen om bendelede aan die pen te laat ry.

“Baie mense weet van hul familielede behoort aan bendes. Hulle kan hierdie inligting anoniem met die polisie deel. Só baie onwettige vuurwapens is in omloop en baie mense weet waar dit is. ’n Ma, ’n broer, ’n suster, een van hulle moet weet waar ’n vuurwapen versteek is. Dit kan ’n lewe red deur net uit te praat.

“Hoekom moet dit gevaarlik wees vir ’n tweejarige om voor sy huis te speel?”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article